WeskusNuus gee die afgelope maande ruimte aan die kandidate van verskillende partye om hulself voor te stel en te motiveer waarom vir hulle gestem moet word:
Letessa Bruintjies, NCC, wyk 29:
My naam is Letessa Bruintjies, ‘n boorling van Mamre en iemand wat diep in die gemeenskap gewortel is. Ek het my skoolloopbaan by die Morawiese Skool in Mamre begin, voordat ek later na Atlantis verhuis het, waar ek my hoërskoolloopbaan by ASSS Nr. 1 voortgesit het. My agtergrond en lewenservarings het my gevorm en my ‘n eerstehandse begrip gegee van die uitdagings waarmee baie van ons mense daagliks worstel.
Ek is sedert 2020 aktief by my gemeenskap betrokke, hoewel my begeerte om mense te help, reeds lank voor dit begin het. As ‘n voorgangersvrou in kerkverband is ek reeds betrokke by gemeenskapsopheffing. Ek het ook myself toegerus deur onder andere ‘n kursus oor dwelmmisbruik te voltooi. Ek glo sterk daarin om na mense te luister, hulle te ondersteun en nie net na hul probleme te luister nie, maar ook op te volg.
My besluit om as wyksraadslid te staan, spruit uit my begeerte om ‘n sterker stem vir inwoners te wees. Ek wil uit ‘n politieke platform werk om my gemeenskap beter te dien en te verseker inwoners weet waar om hulp te kry. Ek wil hê mense moet met vertroue na my toe kan kom, wetende ek sal luister, help en opvolg en ook terugvoer gee.
Indien ek verkies word, sal my drie belangrikste prioriteite beter dienslewering, ‘n veiliger gemeenskap en meer geleenthede vir jongmense wees. Ek wil toesien dat klagtes oor water, elektrisiteit, paaie, dreine, vullisverwydering en straatligte reg aangemeld en opgevolg word. Ek glo veiligheid kan nie net deur misdaadbekamping bereik word nie.
Ons moet aandag gee aan armoede, werkloosheid en gesinsomstandighede wat tot misdaad kan bydra.
Ons jongmense verdien hoop en geleenthede. Ek wil hulle help om toegang te kry tot werk, opleiding, vaardigheidsprogramme en kleinsakegeleenthede.
Ek wil ‘n wyksraadslid wees wat sigbaar, aanspreeklik en toeganklik is en probleme deur gemeenskapswerkgroepe vinniger identifiseer en opvolg en inwoners gereeld terugvoer gee.
My boodskap is eenvoudig: Ek wil nie net praat nie – ek wil luister, help, optree en terugvoer gee. Ek wil saam met die gemeenskap werk aan die opheffing en herlewing van ons mense, sodat elke inwoner weet hul stem maak saak.
Uthmaan Solomons, NCC, wyk 32:
Ek is in Atlantis gebore en getoë en het my hele lewe hier gewoon. My liefde vir en betrokkenheid by die gemeenskap is nie iets wat eers met ‘n verkiesing begin het nie. Ek glo ware leierskap begin wanneer ‘n mens bereid is om ander te dien, na hulle te luister en saam met hulle oplossings te vind.

Ek het oor die jare heen op verskillende maniere tot my gemeenskap bygedra. My betrokkenheid by Kerria Primary as SGB-voorsitter, die Gemeenskapspolisiëring-subforum in sektor 4, die wykkomitee, my werk as aptekersassi-stent, vrywilligerswerk by Radio Atlantis en ander gemeenskapsinisiatiewe het my ‘n goeie begrip gegee van die uitdagings waarmee inwoners daagliks te doen kry.
Ek het besluit om as wyksraadslid te staan omdat ek glo wyk 32 verdien ‘n raadslid wat sigbaar, toeganklik en aanspreeklik is. Ek wil nie slegs tydens verkiesingstyd na inwoners se probleme luister nie. Ek wil gedurende die hele termyn teenwoordig wees, met inwoners skakel, probleme opvolg en terugvoer gee. Vir my gaan leierskap nie oor ‘n titel nie, maar oor diens, verantwoordbaarheid en om ‘n sterk stem vir die gemeenskap te wees.
My drie belangrikste prioriteite is beter dienslewering, bekostigbare basiese dienste en meer geleenthede vir jongmense. Ons kan nie aanvaar dat vullisdromme dae lank op sypaadjies staan voordat dit leeggemaak word nie. Probleme soos onwettige storting, slaggate, infrastruktuur, parke en ander munisipale dienste moet vinnig en bestendig opgevolg word.
Die koste van water en elektrisiteit plaas ook ‘n groot finansiële las op huishoudings. Ek wil my beywer vir meer bekostigbare dienste, wat veral ons armste inwoners kan help.
Werkloosheid, veral onder jongmense, is een van die grootste uitdagings in wyk 32. Ek wil jongmense verbind met leerlingskappe, internskappe, vaardigheidsprogramme, beurse, werksgeleenthede en ondersteuning vir entrepreneurskap. Hulle het nie net aanmoediging nodig nie – hulle het praktiese geleenthede nodig.
Veiligheid is nog ‘n belangrike voorkeur. Ek wil samewerking tussen inwoners, buurtwagte, die polisie, die GPF en die Stad versterk en buurtwagte beter toerus om misdaad te help bekamp.
My benadering is eenvoudig: Meld aan, volg op en gee terugvoer. Inwoners moet weet wanneer hulle ‘n probleem aanmeld, dit nie in die lug verdwyn nie.
Ek vra nie vir ‘n stem bloot op grond van beloftes nie. Ek bring jare se gemeenskapsdiens, ervaring, energie en toewyding. Ek wil ‘n raadslid wees wat luister, werk, aanspreeklik bly en die mense van wyk 32 altyd eerste stel.
LEES OOK: Kandidate maak hul kiesbeloftes



