Peter Stoffberg, onafhanklike kandidaat vir wyke 29 en 32.

Kandidate sê hul sê


WeskusNuus het met nóg twee politieke kandidate in aanloop tot die verkiesing op Woensdag 4 November gesels.

Peter Stoffberg, wat as onafhanklike kandidaat in wyke 29 en 32 staan, sê hy is sedert 2020 aktief by gemeenskapswerk in Atlantis betrokke – onder meer met misdaadbekamping en verskeie gemeenskapsprojekte. Sy betrokkenheid by Atlantis strek volgens hom reeds van 2011 af toe hy by die ontwikke­ling van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asex) betrokke geraak het.

Hy sê die gebrek aan oplossings vir pro­bleme waarmee inwoners daagliks te kampe het, het hom gemotiveer om hom verder tot die gemeenskap te verbind. “Ons het ‘n gebrek aan ondersteuningstrukture om hierdie probleme aan te pak – veral wat misdaad betref,” sê hy.

Volgens Stoffberg het inwoners hom herhaaldelik versoek om as kandidaat te staan.

“My hart en fokus is om misdaad te bekamp, ‘n veiliger omgewing daar te stel en geleenthede te skep vir mense wat minder bevoorreg is. Dit gaan egter uiteindelik oor Ubuntu – om ander te help.”

Sy prioriteite sluit misdaadbekamping, veiligheid, beter geleenthede vir die jeug en die bemagtiging van minderbevoorregte inwoners in.

Volgens Stoffberg is misdaad Atlantis se grootste uitdaging omdat dit ook skole, plaaslike sakeondernemings, werkgeleent­hede en belegging raak. Hy wil sterker vennootskappe tussen inwoners en wetstoepassingsinstellings bevorder. “Vertroue en samewerking moet die grondslag wees.”

Om jeugwerkloosheid die hoof te bied, wil hy vaardigheids- en opleidingsprogramme uitbrei en meer belegging in Atlantis lok. Hy wil ook jongmense aanmoedig om ondernemings te begin.

Wat dienslewering betref, sê hy inwo­ners moet geraadpleeg word om vas te stel watter dienste ontbreek. “Ons moet ontslae raak van bendes en dwelms in ons gemeenskap en ‘n veiliger Atlantis vir almal bou.”

Dencil Hattingh van ActionSA sê sy verbintenis met Atlantis strek oor baie jare en sluit sy tyd as onderwyser by Atlantis Sekondêre Skool, vrywilligerswerk by Radio Atlantis, gemeenskapswerk en betrokkenheid by plaaslike organisasies in.

Hy het ook op die raad van Atlantis Arts and Culture Development gedien.

“My verbintenis met hierdie gemeenskap is persoonlik. Ek het die uitdagings saam met inwoners beleef, die suksesse gevier en glo steeds dat ons mense beter verdien,” sê hy.

Hattingh sê hy het besluit om as wyksraadslid te staan omdat hy glo gemeenskapsleierskap moet fokus op diens, aanspreeklikheid en sigbaarheid.

Indien hy verkies word, sal sy prioriteite veiligheid en misdaadvoorkoming, betroubare dienslewering en jeug- en ekonomiese geleenthede wees.

Hy wil saam met inwoners, buurtwagte, die SA en Metro-polisie en gemeenskaps­organisasies werk om misdaad te bekamp en veiliger woonbuurte te skep.

Volgens Hattingh is die kombinasie van misdaad, werkloosheid, armoede en be­perkte geleenthede vir jongmense van die grootste uitdagings in Atlantis.

Om werkloosheid aan te durf, wil hy jongmense aan vaardigheidsontwikkeling, leerlingskappe, internskappe, entrepreneurskap en werksgeleenthede verbind.

Dencil Hattingh van Action SA en die burgemeesterskandidaat Dareleen James.
Dencil Hattingh van Action SA en die burgemeesterskandidaat Dareleen James.

Wat dienslewering betref, wil hy ‘n stelsel instel waar inwoners se klagtes aangeteken, aangemeld en opgevolg word.

“Jy kan nie ‘n gemeenskap doeltreffend dien as jy nie luister na die mense wat daar woon nie,” sê hy.

Sy eerste stap indien hy verkies word, sal wees om ‘n wyk-wye behoeftebepaling te doen waarin inwoners self die dringendste probleme identifiseer.

“Ek staan omdat ek glo ons gemeenskappe verdien leierskap wat sigbaar, toeganklik en aanspreeklik is.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article