ATLANTIS – Die Wes-Kaap se gebrek aan winterreën is slegte nuus vir boere, blomme en die omgewing, maar ook gewone mense wie se stapelvoedsel brood is. As die droogte voortduur, kan die gevolge uiteindelik tot in Atlantis se huishoudings gevoel word.
Minder reën beteken swakker koringoeste en Suid-Afrika se bakkerybedryf is afhanklik van graan wat teen volhoubare pryse beskikbaar is. Wanneer produksiekoste styg of plaaslike koringvoorrade onder druk kom, kan dit uiteindelik druk op die prys van meel en brood plaas.
Die Weskus se koringboere is reeds bekommerd. Volgens SP Tredouw, Agri Wes-Kaap se streekbestuurder in die Weskus, was die reënval in Junie en Julie – en tot dusver in Augustus – ver onder wat koringaanplantings nodig het om te oorleef. “Hier in die Sandveld het ons net sowat 15 mm gehad; ander plekke tussen 18 en 20. Die koringprys is ook steeds ‘n uitdaging. Graanboere in die Weskus produseer tans teen ‘n verlies. Dit maak nie sin om enigsins meer koring aan te plant nie,” sê Tredouw.
Mog groter kommer in swartland
In die Swartland is die situasie selfs meer kommerwekkend. Volgens Agri Wes-Kaap se syfers het die gebied in Julie slegs sowat 3 mm reën gekry, teenoor 62 mm in Julie verlede jaar.
In dele van die Bergrivier, Koperfontein, Moravia, Moorreesburg, Koringberg en Leliedam was Julie se reënval tussen 2 mm en 4 mm teenoor historiese gemiddeldes van tussen 48 mm en 75 mm. Vredenburg het slegs sowat 4 mm reën in Julie gekry, terwyl die historiese gemiddelde byna 50 mm is.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê dele van die Wes-Kaap het vanjaar die droogste Julie op rekord beleef.
Invloed baie nader aan die huis
‘n Sterk Atlantiese hoogdrukstelsel het kouefronte verder suid gedruk, met slegs drie swak kouefronte wat gedurende Julie oor die suidwestelike dele van die Kaap beweeg het.
Hoewel inwoners van Atlantis dalk nie die gebrek aan reën op ‘n plaas direk raaksien nie, kan die uiteindelike rekening baie nader aan die huis wees.
“Dit is hartverskeurend hier buite, maar ons moet positief bly,” sê Tredouw.
“Ek is bitter bekommerd vir elke landbouer in die streek.
“Werkers gaan ook uiteindelik daaronder ly.”
Met ‘n warmer somer as gewoonlik wat moontlik voorlê, kan die druk op boere, voedselproduksie en uiteindelik voedselpryse verder toeneem.


