Die digte mis wat Atlantis en omliggende gebiede in die Wes-Kaap die afgelope paar weke behoorlik omvou, word hoofsaaklik aan ‘n gebrek aan kouefronte toegeskryf.
Só het meteoroloog en Vox Weather-aanbieder, Annette Botha, aan Swartland Gazette verduidelik.
Sy is dit eens vanjaar is gewis een van die mistigste winters wat in die Wes-Kaap ervaar is. “Die hoofrede is dat ons baie minder sterk kouefronte gehad het en baie fronte het óf heeltemal suid van die Kaap verbybeweeg óf die kus net liggies geraak,” verduidelik Botha. Sy meen sterk wind en reën, wat gewoonlik die vog uit die atmosfeer “skoonvee”, was grootliks afwesig.
“Langs die Weskus vorm mis wanneer koel, vogtige lug oor die koue Benguelastroom beweeg. Die lug koel dan af tot by sy doupunt, waarna die waterdamp in fyn waterdruppels kondenseer en mis vorm. Met ligte winde en bestendige weerstoestande kan hierdie mis maklik teen die kus inbeweeg en selfs vroegsaans vorm voordat dit oornag verdig,” verduidelik Botha.
Sy sê daarom het inwoners van die Weskus die afgelope tyd gereeld mistige oggende én aande ervaar – “ ’n tipiese gevolg van die rustige winterweer wat ons vanjaar beleef het.”
Sy voeg by dié rustige weerpatroon is nie juis goeie nuus nie. “Hoewel die mis baie vogtig lyk, dra dit min tot ons waterbronne by. Wat ons nou regtig nodig het, is nog sterk kouefronte wat wydverspreide reën oor die Wes-Kaap bring om damme verder aan te vul en die winterreënseisoen ‘n hupstoot te gee.”
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verduidelik op sy beurt die weerpatroon wyk gewis af van die tipiese normale en seisonale weerstoestande. “Hierdie tyd van die jaar is kouefronte gewoonlik die oorheersende weerstelsels wat die Wes-Kaap beïnvloed. Sedert die begin van die winter het minder kouefronte die provinsie bereik as wat verwag sou word. In plaas daarvan het verskeie hoogdrukstelsels oorheers, wat tot bestendige atmosferiese weerstoestande, ligte en veranderlike winde en die aanhoudende teenwoordigheid van laevlakvog gelei het. Hierdie hoogdrukstelsels is hoofsaaklik verantwoordelik vir die blokkasie van die tipiese kouefrontstelsels wat die Wes-Kaap in die winter ervaar.”
Soortgelyke mistige toestande word volgens die weerdiens in verskeie dele van die Wes-Kaap, soos die Weskus, die Boland, die Stad Kaapstad en die Tuinroete, ervaar.
Die weerdiens sê verder die huidige weerstoestande sal voortduur namate bestendige atmosferiese toestande, ligte winde en hoë voggehalte in die onderste luglae bly heers. “Dit is dus waarskynlik dat mis sal bly voorkom, veral gedurende die nag en die vroeë oggendure, met die moontlikheid dat dit op sommige plekke tot laat in die middag of vroegaand kan voortduur. Die deurgang van die volgende kouefront sal na verwagting atmosferiese vermenging bevorder en die huidige mistige weerstoestande laat verminder.”
Die weerdiens meen dit is belangrik om daarop te let dat, sodra die front verbygetrek het, helder lug, ligte winde en hewige afkoeling gedurende die nag weer gunstige toestande vir die vorming van stralingsmis in die vroeë oggendure kan skep.
Die weerdiens meen daar was duidelike veranderinge in die plaaslike weerpatrone wat na gunstige toestande vir mistige dae gelei het. “Die afname in kouefronte het gelei tot langdurige tydperke van bestendige atmosferiese weerstoestande, waarin hoëdrukstelsels al meer oorheersend oor die streek voorkom. Hierdie toestande gaan gepaard met ligte en veranderlike winde, hoë humiditeit naby die grond en temperatuuromkerings – alles faktore wat almal vertikale vermenging onderdruk en veroorsaak dat vog naby die oppervlak vasgevang bly.”




