ATLANTIS – Nazla Manuel, ‘n onderwyseres van Avondale Primêr, is as Metro-Noord se Nasionale Beste onderwyser vir 2026 aangewys. Die toekenning bekroon haar deursettingsvermoë en toewyding aan onderwys nadat sy haar kinderdroom verwesenlik het om ‘n onderwyseres te word.
Die Metro-Noord-onderwysdistrik het op Donderdag 25 Junie die 2026- Nasionale onderwystoekennings onder die tema African Elegance with a Touch of Gold aangebied. Die hoogtepunt van die aand was toe Manuel met die gesogte toekenning vereer is.
Die verrigtinge is geopen deur die lofdigter Simamkele Tame van Itsitsa Primêr, terwyl ‘n koor van 120 leerders van Goodwood Park Primêr opgetree het. Tara Lee van die SABC was die seremoniemeester.
Hoewel sy vandag by Avondale Primêr klasgee, het Manuel se reis na die onderwys jare gelede in Knysna begin. Sy is in Knysna gebore en het haar later in Wesbank, Malmesbury, gevestig. Haar liefde vir onderwys het reeds as leerder by Fraaisig Primêr posgevat. Haar klasonderwyseres, juffrou Michaels, het haar aangemoedig om nooit toe te laat dat moeilike omstandighede haar drome in die wiele ry nie.
Haar pad was nie maklik nie
Nazla, haar suster, Sharifa Louw, en hul broer, Shamil Langley, het hul ouers op ‘n jong ouderdom verloor en is deur hul ouma, Sophia Herwels, grootgemaak.
Nadat sy in 1997 aan Knysna Senior Sekondêr gematrikuleer het, kon sy weens finansiële omstandighede nie dadelik verder studeer nie. Sy het die arbeidsmark betree en haar eerste werk as rekeningklerk by Darling Romery aanvaar.
Sy het 11 jaar daar gewerk en waardevolle lesse oor spanwerk, deursettingsvermoë en dissipline geleer. Volgens haar het die ondersteuning van haar kollegas haar laat besef hoe belangrik dit is om mense om jou te hê wat uitdagings saam aanpak.
Manuel het in 2015 vir ‘n B.Ed.-graad by Unisa ingeskryf terwyl sy steeds voltyds gewerk het. Sy het haar graad met die ondersteuning van haar gesin en kollegas in 2019 suksesvol voltooi.
Die volgende jaar het sy haar droom verwesenlik toe sy as onderwyseres by Avondale Primêr in Atlantis aangestel is.
“Ek is nie vir ‘n oomblik spyt dat ek onderwys gekies het nie. Dit is wat ek nog altyd wou doen,” sê Manuel.
Sy glo die vaardighede wat sy in die sakewêreld aangeleer het, soos samewerking, dissipline en volharding, help haar daagliks om leerders te inspireer en te bemagtig.
Elke fase tel
“Ek sou dit nie sonder my man, Marlon Manuel, ons dogter in graad 9, ons seun in graad 12, my familie en my werkskollegas se onwrikbare steun tydens my aanlynstudies kon regkry nie,” sê sy.
Volgens Manuel is haar reis – van die klaskamers van Knysna, deur haar loopbaan by Darling Romery, tot haar pos as onderwyseres by Avondale Primêr – ‘n bewys dat elke fase van ‘n mens se lewe jou toerus om ander te lei en te inspireer.
“Die afgelope vyf jaar het ek groot hoogtes bereik danksy die aanmoediging van my adjunkhoof, Karen Johnson, en ons skoolhoof, Lawrence Poggenpoel,” sê sy.
Sy beklemtoon dat sy nie vir persoonlike erkenning werk nie, maar om ‘n verskil in kinders se lewens te maak.
“Ek doen dit vir al die kinders in ons gemeenskappe om vir hulle te wys hulle kan ook rolmodelle vir ander wees.”
Benewens haar werk as onderwyseres is Manuel boonop ‘n Jolly Phonics-opleier. Sy vertrek op 14 Augustus na Johannesburg, waar sy saam met ander Jolly Phonics-opleiers meer as 2000 opvoeders in universele leeroplossings sal oplei. Van dié opvoeders sal 95 deel van haar opleidingsgroep wees.
Haar raad aan ander opvoeders is eenvoudig: “Wees jouself en doen dit waarvoor jy lief is.
“Onthou, ‘n leerder kom altyd eerste en alles wat jy doen, gaan oor die kind in jou gemeenskap.”





