Rotariërs van Atlantis en Melkbosstrand het saam met die Radiance-stigting en die Atlantic Eye Foundation op Mandeladag ‘n oogsorginisiatief by die Eerste Rivier-hospitaal aangebied, waar 20 pasiënte gratis katarakoperasies ontvang het. As deel van die Cash for Clarity-veldtog is die operasies uitgevoer vir pasiënte wat andersins nog lank op die staat se waglys sou moes wag.
Benewens die herstel van hul sig, het die projek ook bygedra om die druk op openbare gesondheidsdienste te verlig.
Die Radiance-stigting, onder leiding van dr. David Steven, het kliniek- en teaterpersoneel beskikbaar gestel, terwyl die Atlantic Eye Foundation spesialischirurge, ‘n UK-registrateur, mediese beamptes, tegnici en ondersteuningspersoneel voorsien het.
Jansen-Vorster Optometriste het die voorafondersoeke, vervoer en nabehandelings gereël, met Rotary Melkbosstrand wat die vervoerkoste gedra het. Zeiss het intraokulêre lense voorsien, OSI het die chirurgiese verbruiksgoedere geskenk en Atlantic Eye Centre het die nabehandelings-oogdruppels geborg.
Die uitreik was deel van die Melkbos-rotariërlub se oogsorgprojek. Al 20 pasiënte op die projek se waglys het hul operasies pro bono ontvang.
Truida Grové-Jansen, die sekretaris van die Melkbos-rotariërlub, het al die vrywilligers vir hul hulp en bydraes bedank.




