‘n Omvattende restourasieprojek is aan die gang om Mamre se geskiedkundige Morawiese kerkgeboue vir toekomstige geslagte te bewaar.
Toe eerwaarde J.P. Redcliffe in 2024 as leraar van die Mamre- Morawiese gemeente bevestig is, het hy besef verskeie historiese geboue op die kerkterrein verkeer in ‘n swak toestand.
Jare se verwaarlosing het dringende herstelwerk genoodsaak.
Hy het geweet die omvang van die projek sou die gemeente se finansiële vermoë oorskry en het sy plan aan die gemeente en die Morawiese kerk se provinsiale kerkbestuur in Lansdowne voorgelê. Die voorstel is goedgekeur, waarna die beplanning begin het.
Redcliffe se belangstelling in erfenisbewaring het ontstaan ná die verwoestende brand in Wuppertal in 2018, toe meer as 50 historiese geboue vernietig of beskadig is. Die Rupert- geskiedkundige huise-stigting het destyds saam met die Morawiese kerk en die gemeenskap aan die herstel van die sendingstasie gewerk. Dit was hier waar Redcliffe die waarde van vennootskappe en erfenisbewaring eerstehands ervaar het.
Vir die Mamre-projek is Joey en Natasha Titus by die span betrek. Natasha, wat oor ‘n B.Com-graad in toerisme beskik, het uitgebreide kennis van Mamre se geskiedenis, terwyl Joey Titus se jare lange betrokkenheid by geskiedkundige staptoere waardevolle plaaslike kennis tot die projek bygedra het. Die span het saam met Chris Borman, die projekbestuurder van die Rupert- geskiedkundige huise-stigting, navorsing gedoen, koste beraam en die nodige aansoeke voorberei.
Die projek het verskeie uitdagings in die gesig gestaar. Ná voorwaardelike goedkeuring in Oktober 2025 moes die span wag vir die nodige erfenisgoedkeuring voordat werk kon begin. Die afwesigheid van oorspronklike vloer- en struktuurplanne het verdere vertragings veroorsaak. Joey Titus het opmetings gedoen sodat ‘n erfenis-
argitek die vereiste planne kon opstel.
Die erfenissertifikaat vir fase een is uiteindelik op 10 April 2026 goedgekeur, waarna restourasiewerk aan die kerk, Ou Winkel en skuur begin het. Volgens Joey Titus behoort dié fase teen Januarie 2027 voltooi te wees. Aansoeke vir fase twee, wat Küpperhuis, Bakhuis en Langhuis insluit, is reeds ingedien.
Plaaslike inwoners word waar moontlik by die projek betrek, terwyl die Rupert- geskiedkundige huise-stigting toesig hou om te verseker alle werk word volgens erfenisvereistes uitgevoer.
Vir Redcliffe is die projek meer as die herstel van geboue. Hy beskou dit as ‘n belegging in Mamre se geskiedenis, geloofserfenis en identiteit, sodat die dorp se Morawiese nalatenskap vir toekomstige geslagte bewaar kan bly.




