Die groep mans van Kanonkop is deur verskeie keners oor hul regte as slagoffers van geslagsgeweld toegespreek. Foto: Murphy Roberts

Mans leer oor regte oor geweld tuis

Die groep mans van Kanonkop is deur verskeie keners oor hul regte as slagoffers van geslagsgeweld toegespreek. Foto: Murphy Roberts

Geslagsgeweld raak nie net vroue en kinders nie.

Hierdie­ belangrike boodskap is die afgelope Woensdag (5 Augustus) aan ‘n groep mans van Kanonkop oorgedra tydens ‘n bewusmakingsessie wat deur die Atlantis-polisie en die Atlantis-gemeenskapspolisiëringsforum (PGF) aangebied is.

Die sessie het ten doel gehad om mans bewus te maak van die verskillende vorme van geslagsgeweld, hul regte as slagoffers en die ondersteuning wat tot hul beskikking is.

Volgens Julie Lubbe van die Atlantis-GPF heers ‘n stigma steeds daaraan, wat veroorsaak dat baie mans nie mishandeling aanmeld nie.

“Baie mans voel skaam of is bang dat hulle nie ernstig opgeneem sal word wanneer hulle slagoffers van mishandeling is nie. Daarom was dit belangrik om hulle te verseker dat hulp wel beskikbaar is en dat hulle nie alleen is nie,” het Lubbe gesê.

Die hoogtepunt van die sessie was ‘n voorlegging deur Charmain Hansen van die Thuthuzela-­sentrum. Sy het die dienste verduidelik wat die sentrum aan slagoffers van geslagsgeweld bied, soos emosionele ondersteuning, berading en hulp met die strafregtelike proses.

Volgens Hansen was sy verras deur hoeveel van die mans nog nooit van die Thuthuzela-sentrum gehoor het nie.

Verbasing oor hulp vir mans

“Die verbasing op hul gesigte was duidelik sigbaar. Terselfdertyd kon ‘n mens die verligting sien toe hulle besef daar is wel ‘n plek waar hulle ondersteu­ning­ kan ontvang indien hulle slagoffers van geslagsgeweld word,” het sy gesê.

A/o  Denver Abrahams, Allister Lightburn, Charmaine Hansen Thuthuzela Care Centre en  Julie Lubbe-Rossouw van die GPF.
A/o Denver Abrahams, Allister Lightburn, Charmaine Hansen Thuthuzela Care Centre en Julie Lubbe-Rossouw van die GPF het die mans van Kanonkop toegespreek. Murphy Roberts

Die Atlantis-polisie het ook die geleentheid gebruik om die regsproses aan die mans te verduidelik. Lede het uiteengesit hoe gevalle van geslagsgeweld aangemeld kan word, watter regte slagoffers het en watter beskermingsmaatreëls beskikbaar is.

Allister Lightburn, die wykraadslid en voorsitter van subraad 1, het die mans aangemoedig om die stilte oor mishandeling te verbreek.

“Geen man behoort in stilte te ly nie. As jy ‘n slagoffer van geslagsgeweld is, moet jy weet jy is nie alleen nie en mense en organisasies is beskikbaar en gereed om jou te ondersteun,” het hy gesê.

Lightburn het veral vaders aange­moedig om as rolmodelle op te tree deur hulp te soek wanneer hulle dit nodig het en hul kinders te leer geweld is nooit die oplossing nie.

Die organiseerders hoop die inligtingsessie sal meer mans aanmoedig om mishandeling aan te meld en betyds ondersteuning te soek. Hulle beklemtoon dat geslagsgeweld en huishoudelike geweld enige mens kan raak, ongeag ouderdom of geslag, en dat elke slagoffer die reg op beskerming, ondersteu­ning en geregtigheid het.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 11 August 2026

Gift this article