Porterville het die afgelope Saterdag (25 Julie) op die Mamre-sportterrein as die naasbeste span van die Swartlandstreek aangekom en die tuisspan in ‘n belangrike Grootuitdaagbeker-wedstryd van die Boland-rugbyunie gepak.
Vir Mamre en Porterville was dit ‘n maak-of-breek-wedstryd. ‘n Wen of verloor sou veroorsaak dat al twee spanne se posisies op die punteleer verander.
‘n Sterk Porterville-span het Mamre, wat nog nie ‘n wedstryd in die tweede ronde verloor het nie, op sy tuisveld gepak.
Porterville se agttal het uit die staanspoor hul krag gedemonstreer toe hulle ‘n vaskop wen, wat die tuisspan benoude oomblike beosrg het. Swak oordeelsfoute in die eerste paar minute het hulle egter in die steek gelaat.
Ook het hulle Kian Adams agter die skrum onder geweldige druk geplaas, maar Adams het kommerkoel gebly en goeie diens aan Bradwin Johnson gelewer, wat Porterville met sy breke en aanvalle laat omdraai het. Goeie verdediging deur Johnson, Anzo Stubbs, Dillon Oppelt en Edwill Okkers het ook bygedra dat Porterville nie die voordeellyn maklik kon oorsteek nie, maar in hul spore gestuit is wanneer dit gelyk het Porterville gaan punte aanteken.
Onderskepdrie open telbord
Roual Stubbs se goeie oog en tydsberekening het ‘n Porterville-aangee teen die kantlyn onderskep en ‘n 45m naelloop gewen om onder die pale af te rond. Dit het Mamre met 7-0 laat voorloop.
Porterville se swaar pak voorspelers het Mamre weer in ‘n vasteskrum laat sweet, wat tot Calton Esbagh se geelkaart gelei en sy spel met 10 minute verkort het.
Portervile het die situasie uitgebuit en né goeie spel tussen die voor- en agterspelers gaan druk om die telling 7-7 gelykop te maak. Hoewel Porterville se voorspelers voorlangs die oorhand gehad het, kon hulle nie deurbreek nie, maar het balbesit weggeskop, wat Okkers in teenaanvalle omgeskep het in wat tot Austin Apollis se drie onder die pale gelei het. Dit het Mamre se telling tot 14-7 geneem.
Die veteraan Gerwin Philander het Mamre se dissipline onder die loep gebring met ‘n tweede geelkaart toe hy twee minute voor rustyd afgestuur is.
Hoewel Porterville verwoed aanvalle afgestuur het, kon hy nie daarin slaag om Mamre se verdediging te breek nie en moes op 7-14 gaan water drink.
‘n Derde geelkaart – dié keer aan Adams – het hom die wedstryd vir 10 minute as ‘n toeskouer laat volg. Porterville het uit die situasie munt geslaan met ‘n verdoelde drie om die telling 14 elk te maak.
Bradwin Prins mey sy ervaring en spoed het Mamre se derde drie gedruk, wat Okkers vir ‘n 21-14-voorsprong verdoel het. Hoewel Mamre se algemene spel verbeter het, was sy dissipline steeds die knelpunt toe Porterville ‘n onverdoelde drie behaal om die telling tot 21-19 te laat krimp .
Okkers wys weer sy staal
Okkers het weer eens sy ervaring en veelsydigheid getoon toe hy die bonusdrie na goeie agterlynspel deur Mamre gedruk het, wat die telling na 26-19 gelig het.
Mamre se spel het met rasse skrede verbeter en Okkers het nog ‘n strafdoel oorgeklits, maar ‘n vierde geelkaart het weer eens gewys Mamre sal drasties moet verbeter nadat sy plaasvervanger Adrian Groepies koelkas toe gestuur is.
In die laaste minuut van die wedstryd het Mamre weer met opwindende spel ná goeie bewegings deur die agterlyn van links na regs en weer van regs na links gehardloop en Bradwin Johnson in die linkerhoek vir ‘n pragtige drie oorgeduik het. Okkers se doelskop het die eindtelling 36-19 in Mamre se guns beklink.
Hoewel Mamre se verdediging en algemene spel in die laaste twee wedstryde baie goed was, sal sy afrigter ??? Stadler gou wees om te erken sy span se dissipline het drastiese verbetering nodig.
Met dié oorwinning het Mamre een posisie opgeskuif en ‘n klipharde stryd wag nou Saterdag op Saron.
Uitslae: 25 Julie
Mamre 36-19 Porterville; Abbotsdale 39-18 Villagers Wittewater; Wesbank 46-26 Never Despair; Good Hopes 42-10 Koringberg; Moorreesburg 24-41 Darling; en Riebeek United 19-22 Saron.
Wedstrydbepalings: 1 Augustus
Villagers Wittewater t. Wesbank, Porterville t. Abbotsdale, Saron t. Mamre, Moorreesburg t. Good Hopes, Never Despair t. Riebeeck United en Darling t. Koringberg.


