Die trompoppies van Avondale Primêr het die 2026-seisoen sterk begin en berei hulle nou vir die volgende provinsiale byeenkoms voor.

Trompoppiespan bou aan sukses

Die trompoppies van Avondale Primêr het die 2026-seisoen sterk begin en berei hulle nou vir die volgende provinsiale byeenkoms voor.

ATLANTIS – Avondale Primêr se trompoppiespan is ­besig om te herbou en het die 2026-­

seisoen sterk begin deur topdrie-plekke by die eerste provinsiale byeenkoms te behaal.

Die byeenkoms is op 4 Julie by die Hoërskool J.J. Meiring in Goodwood aangebied.

Vir baie van die spanlede was dit hul eerste provinsiale kompetisie.

Volgens die hoofafrigter, Charlyn Olivier, en die skool se adjunkhoof en koördineer­der, Karen Mentoor, is die doel om weer ‘n mededingende trompoppiespan op te bou, wat op provinsiale en nasionale vlak kan meeding.

Olivier, ‘n oudleerder van Avondale Primêr en die Hoërskool Robinvale, rig die span die afgelope nege jaar op ‘n vrywillige grondslag af. Sy het Suid-Afrikaanse Protea-kleure in trompoppies verwerf en sê sy wil haar kennis en ­ervaring gebruik om jong atlete te ontwikkel.

Die span berei tans voor vir die tweede provinsiale byeenkoms wat, op 1 Augustus by die Bellville-fietsrybaan aangebied word.

Volgens Olivier en Mentoor bly geld een van die span se grootste uitdagings. Hoewel die skool die affiliasiefooie betaal, sukkel baie ouers om die koste van toerusting, apparate en spanbydraes te dek.

Vervoer na kompetisies is ook duur en daarom word geldinsamelings gereeld met die hulp van ouers en die gemeenskap gehou.

Die span het in die verlede ondersteuning van die Stad Kaapstad se Burgemeestersfonds ontvang, wat gehelp het met vervoer- en verblyfkoste tydens nasionale byeenkomste.

Avondale Primêr het reeds weer vir dié ondersteuning aansoek gedoen nadat die span vir die nasionale kampioen­skap, wat van 24 September tot 4 Oktober in Wellington plaasvind, gekwalifiseer het.

Die span doen ook ‘n beroep op die gemeenskap en plaaslike ondernemings om hulle te ondersteun.

Die deelnamekoste vir ‘n item of solo-optrede beloop sowat R350 per deelnemer.

Kontak Karen Mentoor by 021 572 2970 of stuur e-pos na avondale.prim@wcgschools.gov.za vir nog inligting of om die span te ondersteun.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 July 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 July 2026

Gift this article