ATLANTIS – Melissa Ndlovu van Atlantis Sekondêr is in die WP se o.18-meisiesrugbyspan opgeneem, skaars ‘n jaar nadat sy aan dié sport begin deelneem het.
Melissa het aanvanklik aan atletiek, netbal en sokker deelgeneem en was veral sterk in die 100- en 200-m-naellope. Haar belangstelling in rugby het verlede jaar begin toe die afrigter Jaden Hansen haar aan die sport bekendgestel het. Die afrigter Dean Storm het haar ontwikkeling verder ondersteun.
By die WP-o.18-proewe op City Park het sy in haar eerste wedstryd al ‘n drie gedruk.
“Dit was uitdagend om teen spelers te speel wat baie langer as ek rugby speel, maar ek het aangehou glo in myself,” sê Melissa.
Sy sê beserings was een van die grootste uitdagings tydens haar voorbereiding, maar sy het volgehou en daarin geslaag om die keurders te beïndruk.
Toe die WP-span aangekondig is, was sy een van die 23 spelers wat gekies is.
“Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning van my ouers, Dumo en Nomozulu, my suster, Nomathemba, asook my afrigters, onderwysers en klasmaats,” sê sy.
Volgens Melissa het die ondersteuning van Atlantis Sekondêr en die gemeenskap dit moontlik gemaak om die proewe by te woon. Finansiële hulp het ook bygedra om haar reis- en verblyfkoste vir die span se deelname in Gqeberha te dek.
“Dit was vir my ‘n besondere ervaring om my gemeenskap en skool op provinsiale vlak te verteenwoordig,” sê sy.
Melissa se volgende doelwit is om vir die WP-o.20-vrouespan en daarna die Junior Springbokke se o.20-span gekeur te word. Ná matriek wil sy sportwetenskap studeer en later as afrigter in haar gemeenskap terugploeg.





