Primêre en sekondêre skole van die Metro-Noord-distrikte het op Saterdag 29 Augustus na Avondale Primêre skool in Atlantis gereis vir die Woorde Open Wêrelde-spelfees (WOW).
Vir die dorp Atlantis was dit ‘n geskiedkundige geleentheid, want dit is die eerste keer in die geskiedenis van WOW dat Atlantis die spelfees in die dorp se 50 jaar aanbied.
Omtrent 490 leerders en 190 opvoeders van die verskillende skole is na die distrikbyeenkoms gelok.
Ivy Orange, die Metro-Noord Onderwysdepartement se verteenwoordiger, het die geskiedkundige byeenkoms in Atlantis geopen toe sy leerders, opvoeders en ouers verwelkom en die leuse van WOW van pret en plesier voorgehou het. Sy het al die leerders aangemoedig om hulle beste te gee, maar hulle herinner dat dit feestyd is en hulle dit moet geniet.
Toe die byeenkoms teen 09:30 begin, het die pret en genot tussen die leerders begin en ná omtrent twee ure geëindig, wat die naam van WOW hoog gehou het.
Dring deur na WK-byeenkoms
Vier leerders in elke graad vanaf grade 1-10 in Afrikaans en grade 4-9 in Engels is ná die eindronde vir hul bydrae tot die WOW-spelfees vereer en deurgedring na die Wes-Kaapse provinsiale byeenkoms, wat Saterdag (12 September) in die Paarl by New orleans Sekondêre skool beslis is.
Die nasionale byeenkoms word op 3 Oktober by die Universiteit Stellenbosch tussen al die provinsies gehou.
Atlantis se skole het op Dinsdag 25 Augustus geskiedenis gemaak toe die nuutste toevoeging, die WOW-telfees, by die Saxonsea Primêre skool in Atlantis begin het. Dit was ‘n geskiedkundige oomblik vir die dorp se skole wat die eerste keer kennis met dié nuwe wiskundige spel gemaak het. Hierdie inisiatief van die Universiteit Stellenbosch bring wiskunde na die voorgrond en bied leerders ‘n nuwe manier om hul vaardighede te toets en te ontwikkel, wat terselfdertyd met pret en plesier gepaard gaan.
Zelda Andrews, die hoof van Hermeslaan Primêr, het die byeenkoms geopen en beklemtoon dat die telfees ‘n belangrike stap is om leerders se selfvertroue in wiskunde te versterk. “Ons kinders het dikwels ‘n vrees vir getalle, maar hierdie fees wys hulle dat wiskunde ook pret kan wees,” het sy gesê.
‘Atlantis het talent’
Gary Markus, die hoof van Saxonsea, het sy opgewondenheid oor en die belangrikheid van die byeenkoms vir Atlantis-skole beklemtoon en dat die telfees ‘n geleentheid skep vir skole om saam te werk en leerders te motiveer. “Atlantis het lankal gewys ons het talent, maar die telfees gee ons ‘n platform om dit te geniet en te ontwikkel.”
120 leerders vanaf graad 4-7 het vir die telfees ingeskryf.Die eerste 10 is gekeur volgens prestasie, waarvan die eerste drie as die algehele wenners aangewys is en medaljes ontvang het. 40 leerders sal nou Kring 10 by die eerste distriksbyeenkoms hierdie Saterdag (19 September) verteenwoordig.




