Marawiërs reg oor die wêreld het op Sondag 23 Augustus Kinderfees gehou.
Die fees se ontstaan het sy oorsprong in Hernhut (Europa) in 1727, toe ‘n meisietjie met die naam Susanna Kuhnel op 17 Augustus 1727 haar hartjie aan die Here gegee en besluit het om die Woord van die Here te verkondig.
Die Morawiese Kinderfees is ‘n tradisionele jaarlikse kerkfees van die Morawiese kerk en word elke jaar in Augustus die naaste aan 17 Augustus gevier.
Die Sondagoggend-eredienste fokus spesiaal op kinders, met gassprekers wat die diens lei om kindertjies oor die Bybel te leer. Ná die oggenddiens is die middag gewoonlik die bymekaarkomplek waar die kindertjies met stories en musiek vermaak word.
Whaden Johannes, ‘n musikant/liedjieskrywer en TV-akteur, het die kinders by die Mamre- Morawiese kerk vermaak.
Die middaghoogtepunt was gewis die bekende anysbroodjie of “bolletjie”, soos dit oor die jare onder die kinders roem verwerf het. Hulle is verder met ‘n glasie sap of koeldrank by die ingang van die kerk voor hul vertrek huiswaarts afgesien.
Hierdie geloofsbeleidenis van Susanna Kuhnel bring nie net die kindertjies byeen nie, maar ook ‘n feestelike atmosfeer en maaltyd soos Kersfees na vore, want die kindertjies word in hul beste klere opgedos wanneer hulle die Kinderfees bywoon.





