ATLANTIS – Die Emmanuel-dagsorgsentrum (EDCC) in Atlantis is by die Heroes of Hope-uitmuntendheidsprysuitdeling in Kaapstad as naaswenner in die afdeling vir inklusiewe onderwys aangewys.
Die prysuitdeling is op Vrydag 28 Augustus deur Ladles of Love by die Garden Court- Nelson Mandela Boulevard-hotel aangebied. Skoolhoofde en bestuurders van spesiale skole en voorskole van reg oor Suid-Afrika heen het die geleentheid bygewoon.
Die Heroes of Hope-prysuitdeling gee erkenning aan mense en sentrums wat ‘n belangrike rol vervul om veilige en ondersteunende omgewings vir kinders te skep. Dit was die eerste keer dat die Emmanuel-dagsorgsentrum aan die jaarlikse kompetisie deelgeneem het.
Joyce Anderson, die sentrumhoof en ‘n gekwalifiseerde maatskaplike werker, het gesê die erkenning is vir die sentrum ‘n groot eer. “Hierdie erkenning beteken baie vir ons as organisasie, omdat ons nie dikwels sulke pryse ontvang nie,” het Anderson gesê.
Sy het gesê die prysuitdeling het haar ook geïnspireer om voort te gaan met die werk wat die sentrum in Atlantis doen.
Onder die sprekers was Zuraida Jardine en Daniele Diliberto, die stigter en die uitvoerende hoof van Ladles of Love. Anderson het gesê hul boodskappe het hoop gebring aan mense wat met kinders uit benadeelde gemeenskappe werk.
“Dit het ons ook aangemoedig in die daaglikse uitdagings waarmee ons te doen kry om steeds die hoëgehaltediens te lewer waarna ons vir ons leerders streef,” het sy gesê.
Volgens Anderson het die geleentheid haar verder oortuig dat die Emmanuel-dagsorgsentrum sy verantwoordelikheid teenoor die Atlantis-gemeenskap nakom.
“Ek het die geleentheid baie geniet. Dit het bevestig dat ons die sentrum se verpligting nakom om die beste moontlike diens aan ons gemeenskap te lewer.” Sy het gesê die toekennings beklemtoon die belangrike rol wat voorskole en spesialebehoefteskole in hul gemeenskappe speel.
Volgens haar gaan die werk nie net oor onderwys nie, maar ook oor die skep van veilige ruimtes waar kinders kan groei en ontwikkel.
• Ander wenners
Verskeie ander sentrums en leiers is ook tydens die geleentheid vereer.
In die afdeling Kindervoeding en Welstand was Bulelwa Vanqa van Kids Ministry in Delft die wenner. Lydia Majezi van Lelothando Educare, ook in Delft, was die naaswenner.
Wendy Ramogole van Thabelang Kgotso in Alexandra het die Hero of Hope-toekenning gewen, met Monica Abrahams van Drie Beertjies in Fisantekraal die naaswenner.
Monica November van Hope of Africa in Delft het die Inclusive Education-afdeling gewen, en Anderson van Emmanuel die naaswenner.
Berenice Johnson van Angels Daycare in Delft het die Digital Innovation-prys ontvang.
In die afdeling Enterprise Development het Venessa Mhlungu van Kidz Kingdom in Kuruman, Noord-Kaap, gewen. Andiswa Ncamiso van Little Conquerors in Joe Slovo, Milnerton, was die naaswenner.





