ATLANTIS – Vir die rolprentvervaardiger Cleveland Hopp, wat in Atlantis gebore is en in Malmesbury grootgeword het, het vanjaar se kykNET-Silwerskermfees ‘n besondere betekenis gehad.
Hopp – tans ‘n intern by die MultiChoice Talent Factory (MTF) – het vier rolprente in vanjaar se Silwerskerm-program gehad en aan elkeen in ‘n verskillende produksierol gewerk.
Die 14de Silwerskermfees is van 19 tot 22 Augustus in Kampsbaai aangebied en het rolprentmakers, akteurs en ander rolprentbedryfspersoneel vir vertonings, werksessies en bedryfsgeleenthede bymekaargebring.
Hopp se vier rolprente was Al wat ek weet, Variasies op ‘n tema, ‘n Poppy op die Heuwel en As ek kon kies. Hy het saam met die regisseurs Jason Jacobs, Devon Delmar, Winford Collings, Kanji Viljoen en Emilie Bardenhorst gewerk.
Hopp het as koördineerder aan die bykomende opnames van Al wat ek weet gewerk. Die Meria Productions-fliek is deur Jacobs en Delmar geregisseer en uit Marita van der Vyver se roman verwerk. Die rolprent, wat oor adolessensie, familie en grootword handel, het die gehoorkeuse-prys by die 2026-Silwerskermfees gewen.
VERSKILLENDE ROLLE
In Variasies op ‘n tema, ‘n Kraal Stories-produksie waarvan Jacobs en Delmar ook die regie behartig het, het Hopp verskeie rolle vervul. Hy was produksiebestuurder, produksie-ontwerper en impak- en bemarkingskoördineerder. Dié 65-minute-fliek speel in die Kamiesberge van Namakwaland af en volg die 80-jarige bokwagter Ouma Hettie, wat betrokke raak by ‘n bedrogspul oor beloofde oorlogskadevergoeding.
Variasies op ‘n tema het die Tiger-prys by die Internasionale rolprentfees in Rotterdam gewen en is ook by onder meer die Joburg-rolprentfees, die Hong Kong- internasionale rolprentfees en New Directors/New Films in New York vertoon.
Vir ‘n Poppy op die Heuwel, geskryf en geregisseer deur Winford Collings, het Hopp as eerste assistent-regisseur gewerk. Dié kortfliek volg die sibbe Josh en Laila wanneer hulle ná die dood van hul ouma, Poppy, na die familieplaas terugkeer. Laila wil hê haar ouma moet langs haar eie ma begrawe word, maar die plaas behoort nou aan iemand anders.
Terug in vervaardiging
Hopp se vierde film, As ek kon kies, het hom weer in produksie-ontwerp laat werk. Dié kortfliek is deur Kanji Viljoen en Emilie Bardenhorst geregisseer en fokus op Kyleigh, wat haar verlowing aan Jayden by die kerk vier, terwyl haar voormalige lewensmaat, Lara, toekyk.
Vir Hopp het sy betrokkenheid by die fees ‘n persoonlike betekenis gehad. Hy het as kind die Silwerskermfees op televisie gevolg en daarvan gedroom om dit eendag by te woon. “Dit is ‘n voorreg wat ek nooit as vanselfsprekend sal aanvaar nie. Wanneer ek dink aan waar ek begin het, waar ek die Silwerskermfees op televisie gekyk en daarvan gedroom het om dit eendag by te woon, is dit oorweldigend om nou deel van die werk te wees,” het Hopp gesê.
Benewens sy betrokkenheid by die vier rolprente het Hopp tydens die fees aan ‘n werksessie oor rolprentvervaardiging vanuit gemeenskappe deelgeneem. Die werksessie het onder meer die rolprentvervaardigers Annemarie du Plessis, Deirdre Jantjies, Devon Delmar en Jason Jacobs betrek.
Hopp is tans besig met sy jaarlange MTF-internskap, wat jong rolprent- en televisiepraktisyns praktiese ervaring in die bedryf bied. Die program stel interns aan verskillende aspekte van produksie bloot, waaronder produksie, regie, skryfwerk en ná-produksie.
Hopp sê hy weet nog nie presies wat die toekoms inhou nie, maar wil voortgaan om ervaring op te doen. “Ek weet ek is gereed om aan te hou leer. Ek werk hard en ek is baie dankbaar om hier te wees en die geleentheid te hê om iets te doen waarvoor ek werklik lief is,” het hy gesê.





