“Luister om te verstaan, nie om terug te praat nie” – die houtlepel-effek wat TikTok laat gons

Thessolika Matthews, of Ousiwe Ousie, soos sy op TikTok bekend staan, met haar kinders. Foto: Murphy Roberts
Thessolika Matthews, of Ousiwe Ousie, soos sy op TikTok bekend staan, met haar kinders. Foto: Murphy Roberts

“Luister met begrip en luister om te verstaan, Juffroutjie, want ek stuur jou skool toe om te gaan leer en nie om ’n groot vrou te gaan wees nie! Verstaan ons mekaar?”

Met dié woorde het Thessolika Matthews van Atlantis – beter bekend as Ousiwe Ousie op TikTok – die nuwe skooljaar behoorlik laat dreun. Haar eerste-skooldag-video oor wat sy self die “houtlepel-effek” noem, het reeds meer as twee miljoen kyke op sosiale media opgeraap en die tongklappers behoorlik aan die praat gesit.

Thessolika Matthews, of Ousiwe Ousie, soos sy op TikTok bekend staan, met haar kinders. Foto: Murphy Roberts
Thessolika Matthews, of Ousiwe Ousie, soos sy op TikTok bekend staan, poseer saam met haar kinders soos wat hulle op die video verskyn. Foto: Murphy Roberts

“Jy gaan nie skool toe om te rook, te bank, te vape of ’n juffrou of meneer voor die bors te gryp nie,” waarsku sy in die video. “En as hulle praat, dan luister jy, want hulle het die laaste sê. Verstaan jy?”

Volgens Ousie is dit die tweede jaar wat sy so ’n video maak, maar vanjaar het dit alle verwagtinge oortref. “Ek bedoel elke woord wat ek sê,” verduidelik sy. “En die houtlepel-effek werk vir my. Ek is nog nooit na ’n skool toe geroep oor my kinders se gedrag nie. Ek word net gebel om diplomas te gaan haal.”

In die video maan sy haar vier kinders om weg te bly van maatjies wat rook, bank, vape en ander verkeerde dinge doen. “Hulle is negatief,” sê sy reguit. “En dit is nog nie julle beurt nie.”

Sou ’n juffrou of meneer haar kinders egter sonder rede benadeel of enigsins ongemaklik laat voel, moet hulle dit onmiddellik vir haar sê. “Dán sal ek met my houtlepel skool toe gaan,” voeg sy half grappenderwys by.

Sy lag en sê sy het nog nooit nodig gehad om die houtlepel te gebruik nie en hoop dit sal nie nodig wees nie. “Maar ek sal nie skroom om dit te doen nie.”

Haar oudste dogter, Abrenicia, ’n gr.11-leerder aan Atlantis Sekondêr, sê sy bly doelbewus uit die kring van spotters.

“Ek weet wat reg is,” sê sy. “Ek neem ook die houtlepel-effek ernstig op, want ek weet my ma bedoel elke woord.”

Vir Zion (12), ’n leerder aan Kerria Primêr, het die gesprek ’n groot verskil gemaak. Waar hy voorheen ’n groot vriendekring gehad het, is dit nou net ’n handjievol.

“Ek wil my familie trots maak,” sê hy. “Ek het ontslae geraak van my stout maatjies en fokus nou net op my skoolwerk.”

Volgens Ousie ontvang Zion elke jaar diplomas vir sy skoolwerk en raak hy mismoedig as hy nie 7’s behaal nie.

Die houtlepel mag dalk net ’n simbool wees, maar die boodskap is duidelik: dissipline, respek en fokus bly steeds deel van grootword.

Kyk die video:

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus – E-Edition 10 February 2026
    WeskusNuus – E-Edition 10 February 2026

Gift this article