Atlantis se reis oor vyftig jaar word uit die mond van die raadslid en subraad 1- voorsitter Allister Lightburn vertel – van ‘n nywerheidsmekka tot ‘n inklusiewe gemeenskap wat vandag trots staan.
Atlantis is in 1976 as ‘n nywerheidsdorp gestig. Groot nywerhede is met regeringsubsidies gelok en die wit sandduine het ‘n unieke landskap geskep wat mense van die Noord-Kaap en die Kaapse Vlaktes hierheen laat stroom het. Vir baie gesinne was dit ‘n nuwe begin – ‘n kans om ‘n bestaan te maak en ‘n gemeenskap te bou.
Maar namate die regering die subsidies onttrek het, het werkloosheid toegeneem. Inwoners het swaargekry en moes dikwels veg vir ‘n beter lewe vir hul gesinne. Tog het Atlantis nie stilgestaan nie. Met die oorgang na demokrasie het die dorp begin ontpop as ‘n veerkragtige en ontwikkelende gemeenskap.
Lightburn verduidelik dat Atlantis vandag ‘n ander gesig het: “Ons sien beleggings in hernubare groen energie en die totstandkoming van die Atlantis- spesiale ekonomiese sone, waar al drie vlakke van regering saamwerk. Dit is ‘n bewys dat Atlantis sy regmatige plek inneem as ‘n sentrum van volhoubare groei en ontwikkeling.”
Die dorp het oor die jare met nuwe woonbuurte en infrastruktuur uitgebrei. Waar Atlantis vroeër as ‘n “bruin dorpie” bekend gestaan het, is dit vandag ‘n inklusiewe gemeenskap waar mense van verskillende agtergronde saam ‘n toekoms bou.
Op die vraag waarom hy verkies om in Atlantis te woon en nie in ‘n ander voorstad van Kaapstad nie, sê Lightburn sonder huiwering: “Die rede is die samehorigheid van ons mense. Ons staan saam op teen terugslae en uitdagings. Atlantis is ‘n passievolle gemeenskap wat nie skroom om sy hande vuil te maak nie,” het Lightburn gesê.
Hoewel hy in Elsiesrivier gebore is, het Lightburn op ‘n jong ouderdom na Atlantis verhuis. “Ek het verlief geraak op hierdie dorp,” sê hy. “Atlantis het my gevorm en ek glo dit het dieselfde vir duisende ander gedoen.”
Vyftig jaar later is Atlantis nie net ‘n dorp nie, maar ‘n simbool van volharding, liefde en nalatenskap. Die gemeenskap het swaarkry geken, maar ook groei en trots beleef. Soos Lightburn afsluit: “Atlantis is die plek waarvoor ek en andere lief geword het.Al was daar hartseer en verdriet, het hierdie dorp my ook vreugde en ‘n gevoel van behoort gegee. Dit is nie net ‘n dorp nie, maar ‘n plek waar onbekende mense mekaar vir die eerste keer ontmoet en ‘n tuiste geskep het wat Atlantis tot 50 jaar geneem het.”





