Murphy Roberts
Dit is sý manier om kinders veilig en van die straat te hou, sê Enzio Fagodien wat binnekort 17 jaar oud word.
Hy het vroeër vanjaar, in Meimaand, begin om sy gemeenskap in Protea Park se vuillisdromme skoon te maak. Dié jong en energieke man vertel opgewonde dat hy dit as ‘n idee vir ‘n onderneming in dié bende-geteisterde gebied gekry het.
Hy vra maar net R10 per drom en sê die geld word gebruik om weer skoonmaakmiddels aan te koop. Met die res sorg hy dat van die kinders met lekkergoed bederf word, “want hulle kom altyd eerste”.
Die kinders help hom ook om die buurt skoon te hou, sê hy.
Enzio doen tans sy vlak 3-studies by die Atlantis-vaardigheidsskool.
Hy het aan WeskusNuus verduidelik dat hy nie net ‘n ouer boetie is nie, maar hy tree ook as ‘n pa vir sy jonger broers op omdat sy ma ‘n enkelouer is.
“My gesin sukkel ook, en dit is wat my dryf om suksesvol in die lewe te wil wees,” vertel hy trots.
“Ek wens ek kon meer vir my familie doen, maar die gemeenskap en ander minderbevoorregte families het ook my ondersteuning nodig.”
Enzio en sy medewerkers verf ook huise van gesinne wat dit nie kan bekostig nie.
Hulle verrig ook ander take vir ‘n klein fooi waarmee die kinders dan onthaal word, verduidelik dié jongman met ‘n groot hart en net so ‘n groot visie.
Moosa Raise, wyksraadslid, sê Enzio is ‘n ware ambassadeur in die gemeenskap. “Atlantis het meer sulke mense nodig.”
Volgens Raise ondersteun hy Enzio in sy drome en help hy waar moontlik.
Enzio droom van sukses in die sakewêreld sodat hy meer vir sy gemeenskap en veral die kinders kan doen.






