DIE WYK 29-KANDIDAAT ALLISTER G. LIGHTBURN: “MENSE KOM EERSTE”

Politici maak hul beloftes


Janine Passenz, ANC, Wyk 29:

Passenz sê haar jare lange betrokkenheid by gemeenskapswerk, jeugontwikkeling en ondersteuning aan slagoffers van geslagsgeweld (GBV) het haar voorberei om die gemeenskap as wyksraadslid te dien.

Passenz was onder meer ‘n Numsa-vakbondverteenwoordiger, sekretaris van die Wes-Kaapse Jeugforum en nasionale MIBFA-trustee. Sy is ook ‘n stigterslid en ambassadeur van die Survivor Haven-stigting, waar sy slagoffers en oorlewendes van GBV ondersteun.

Sy sê sy het nie ligtelik besluit om haar as kandidaat beskikbaar te stel nie. Die plaaslike ANC-tak, waar sy voorheen takvoorsitter en lid van die ANC-­­jeugliga was, het haar genader. Haar huidige ­studies in parajuridiese studies het volgens haar ook tot die besluit bygedra.

“Dit gee my ‘n beter begrip van die wet, mense se regte en verantwoordelikhede en hoe ek die gemeenskap beter kan dien.”

Passenz se drie hoofprioriteite is beter dienslewering en infrastruktuur, belegging en werkskepping, asook veiliger, skoner en gesonder gemeenskappe.

Sy identifiseer swak dienslewering, misdaad, werkloosheid en munisipale skuld­invordering as van die grootste uitdagings in die wyk. Sy is veral bekommerd oor skuldinvordering wanneer inwoners elektrisiteit koop. Volgens haar kan aftrekkings vir uitstaande skuld beteken dat arm huishoudings minder elektrisiteit vir hul geld ontvang.

“Ons het ‘n billike en volhoubare benadering nodig wat munisipale finansies beskerm, maar ook die waardigheid en behoeftes van kwesbare huishoudings in ag neem.”

Om misdaad die hoof te bied, wil Passenz nouer met die polisie, gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), justisie, maatskaplike ontwikkeling, buurtwagte en ander veiligheidstrukture saamwerk. Sy wil ook meer jeugprogramme en misdaadvoorkomingsinisiatiewe ondersteun.

Passenz wil werkloosheid onder jongmense deur vaardigheidsontwikkeling, entrepreneurskap en belegging aanpak. Sy noem onder meer bestuurderslisensieprogramme, rekenaarvaardighede en beroeps­opleiding as maniere om jongmense se werksvooruitsigte te verbeter. Sy belowe ook gereelde gemeenskapsbetrokkenheid en beter opvolg van diensle­weringsklagtes.

As sy een onmiddellike verandering kon aanbring, sou dit wees om gemeenskapsorganisasies en sportklubs beter toegang tot gemeenskapsale en sportvelde te gee. “Ons gemeenskapsale en sportvelde behoort aan die gemeenskap. Deur hierdie organisasies te ondersteun, belê ons in ons mense, ons jeug en die toekoms van Wyk 29.”

DIE ANC SE WYK 29-KANDIDAAT JANINE PASSENZ
DIE ANC SE WYK 29-KANDIDAAT JANINE PASSENZ: “EK WIL DIENSLEWERING DRYF”

Allister G. Lightburn, onafhanklike kandidaat, Wyk 29:

Lightburn woon al die afgelope 41 jaar in Atlantis en sê sy jare lange betrokkenheid by die gemeenskap vorm die grondslag van sy kandidatuur.

Lightburn was 34 jaar as gemeenskaps­aktivis betrokke voordat hy in 2019 tot openbare amp verkies is. Hy het ook as voorsitter van die Be­r­zelia Primêre Skool se beheerliggaam en ondervoorsitter van die Hoërskool Robinvale se beheerliggaam gedien. Hy was verder by verskeie jeugontwikkelings- en organisasies sonder winsoogmerk betrokke.

Hy sê hy het hom weer beskikbaar gestel nadat hy ná ‘n streng keuringsproses as sy party se kandidaat vir Wyk 29 aangewys is. “Ek wil voortbou op die suksesse wat ons in die vorige termyn behaal het. Mense is vir my belangrik en saam kan ons die omstandighede in ons gemeenskappe verbeter,” sê hy.

Lightburn se prioriteite sluit ‘n oudit van basiese diensleweringsagterstande in, met spesifieke aandag aan swak vullisverwydering, onwettige storting en verstopte of oorlopende riool. Hy wil ook gemeenskaps­parke opknap sodat dit veilige ruimtes vir veral kinders kan wees en sportgeriewe in die wyk laat opgradeer.

Behuisingsbehoeftes – veral in Mamre – is volgens hom ook dringend. Hy wil saam met die Mamre-CPA aan oplossings vir inwoners se behuisingsbehoeftes werk.

Lightburn sê die groei in die bevolking het druk op verouderde infrastruktuur geplaas, maar projekte soos pypvervanging, padherstel, verkeerskalmering, permanente busskuilings en opgraderings van sportgeriewe het reeds vordering gebring.

Misdaad – veral bendegeweld en moord – bly volgens Lightburn een van Wyk 29 se grootste uitdagings. Hy ondersteun groter samewerking tussen die polisie, die Stad Kaapstad se wetstoepassingsagentskappe en buurtwagte. Hy glo inwoners moet ook verantwoordelikheid neem om misdaad aan te meld.

Wat werkloosheid betref, wil hy jongmense aanmoedig om koöperasies te vorm en toegang tot staatsfinansiering te kry om ondernemings te begin. Lightburn wil gemeenskapsdeelname aan die Stad se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP/IDP) versterk en die wykskomitee uitbrei.

As hy dadelik een verandering kon maak, is dit om vandalisme van openbare infrastruktuur aan te pak. Hy stel groter gebruik van gemeenskapstraatgroepe, fasiliteitsbeskermingsbeamptes en strenger toepassing van verordeninge voor – veral teen oortreders en onwettige skrootwerwe.

Volgens Lightburn moet Wyk 29 deur diensbare, mensgesentreerde leierskap vir almal verbeter word.

Manfred van Rooyen, DA, Wyk 32:

Van Rooyen sê sy bykans 30 jaar se betrokkenheid by Atlantis, tesame met 19 jaar se ervaring in plaaslike en provinsiale regering, plaas hom in ‘n sterk posisie om die gemeenskap te dien.

Hy en sy vrou en kinders woon in Saxonsea en hy is al jare in die gemeenskap aktief. Hy het onder meer as ouderling by die VGKSA Wesfleur in Saxonsea gedien en was voorheen diaken en sekretaris van die Atlantis United Church. Hy was ook die voorsitter van die Atlantis- Raad van Belanghebbendes.

DA-WYK 32: MANFRED VAN ROOYEN
DA-WYK 32: MANFRED VAN ROOYEN: “ERVA­RING MOET TOT VOORDEEL VAN DIE GEMEENSKAP WEES.”

Van Rooyen beskryf hom as ‘n gemeen­skaps-, maatskaplike geregtigheid- en politieke aktivis wat reeds sedert 14 by plaaslike kwessies betrokke is.

Sy professionele loopbaan sluit drie jaar as senior kommunikasiebeampte by die voormalige Departement van Maatskaplike Dienste en Armoedeverligting in, gevolg deur bestuursposisies by die Breedevallei-, Bitou- en George-munisipaliteite.

Indien hy verkies word, wil hy eerstens ‘n oudit van diensleweringsagterstande doen, met aandag aan vullisverwydering, onwettige storting en verstopte rioolstel­sels. Hy wil ook parke opknap en veiliger ruimtes vir kinders skep en die wykkomitee versterk. Hy wil ook saam met inwoners deur die wyk beweeg om slaggate en stukkende straatligte te identifiseer en seker te maak dat dié behoeftes in die Stad se begrotings- en beplanningsprosesse aanepak word.

Volgens hom is misdaad – veral bende­geweld, taxigeweld en afpersing – van die grootste uitdagings in Wyk 32 en Atlantis. Hy sê die dood van die plaaslike leerders Dana-Lee Coet en Nikita Finch wys op die erns van die situasie.

Hy pleit vir sterker samewerking tussen die polisie, die Stad se wetstoepassers en buurtwagte, asook beter ondersoekvermoë by die polisie. Hy ondersteun ook die DA se standpunt dat sekere polisiefunksies na die Stad oorgedra moet word.

Jeugwerkloosheid moet volgens hom aangepak word deur jongmense by oplei­ding, entrepreneurskap en nuwe beleggingsgeleenthede te betrek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 15 September 2026
    Explore the latest updates in WeskusNuus E-Edition – 15 September 2026 and stay informed about local news.

Gift this article