ATLANTIS – Die Stad Kaapstad is besig met ‘n uitgebreide program om MyCiTi-busse op te knap en infrastruktuur te verbeter. Die doel is om die diens meer betroubaar en veiliger vir pendelaars te maak.
Die raadslid Rob Quintas, die burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, het Atlantis onlangs besoek om homself van die opknappingswerk aan busse en bushaltes te vergewis.
Volgens Quintas sal die verbeterings duisende inwoners van Atlantis, wat MyCiTi-busse daagliks gebruik om werk, skole, gesondheidsdienste en ander geleenthede in Kaapstad te bereik, help.
Die Stad het ongeveer 346 MyCiTi-busse wat voortdurend onderhou moet word om hulle veilig en betroubaar op die pad te hou. Op die Atlantis-roetes alleen lê die busse saam sowat 4 200 km per weekdag af, terwyl die hele MyCiTi-netwerk daagliks ongeveer 65 000 passasiers vervoer.
Die volledige opknapping van ‘n bus kan, afhangend van sy toestand, tussen sewe en 14 weke duur voordat dit weer in diens gestel word. Quintas het inwoners vir hul geduld bedank.
Die diens het onlangs onder druk gekom nadat inwoners oor die swak toestand van sommige busse gekla het. In Atlantis is ook gereeld op sosiale media kommer uitgespreek oor busse wat onklaar raak, aan die brand slaan of in ongelukke betrokke is.
“Ons maak goeie vordering om die betroubaarheid van die MyCiTi-diens vir pendelaars in Atlantis, Witsand, Pella en Mamre te versterk,” het Quintas gesê.
Hy het inwoners ook gevra om te help om klipgooiery en vandalisme teen MyCiTi-busse te voorkom.
Volgens hom hou sulke optrede ‘n gevaar vir passasiers en bestuurders in en beteken dit ook dat busse langer uit diens kan wees vir herstelwerk.
“Wanneer busse beskadig word, word die hele gemeenskap geraak,” het hy gesê.
Vandalisme kan by 0800 65 64 63 aangemeld word.
Benewens die opknapping van busse word infrastruktuur ook verbeter. Die Stad is besig om 45 tydelike MyCiTi-bushaltes langs die Atlantis-, Pella- en Mamre-roetes na permanente haltes op te gradeer.
Die nuwe haltes sal moderne skuilings bied waar passasiers veiliger en gemakliker op hul busse kan wag. Verbeterings aan voetganger-infrastruktuur word ook aangebring om toegang tot die haltes veiliger en makliker te maak. “Hierdie nuwe haltes is ‘n beduidende verbetering vir ons passasiers en bied veiliger en meer gemaklike wagplek,” het Quintas gesê. “Dit gaan daaroor om die basiese dinge reg te doen en waardige openbare vervoer aan die gemeenskappe wat ons bedien, te lewer.”
Die Stad verwag dat die verbeterings die MyCiTi-diens vir inwoners van Atlantis en omliggende gemeenskappe veiliger, meer betroubaar en geriefliker sal maak.





