ATLANTIS – Bouwerk aan ’n sonkraginstallasie van R21 miljoen by die Wesfleur-rioolwatersuiweringswerke in Atlantis is tans aan die gang. Die Stad Kaapstad belê in die projek om elektrisiteitskoste oor tyd te verminder en meer volhoubare rioolwaterbehandeling te ondersteun.
Die installasie sal uit 1 680 sonpanele met ’n totale kapasiteit van 1,04 MW bestaan. Dit sal na verwagting jaarliks sowat 1,75 miljoen eenhede elektrisiteit opwek, gelykstaande aan die elektrisiteitsbehoeftes van ongeveer 365 huishoudings.
Die sonpanele kan sonlig van albei kante opvang en is oos- en weswaarts gerig om elektrisiteitsopwekking deur die dag te maksimeer. Ses omsetters sal die sonenergie in elektrisiteit omskakel wat by die suiweringswerke gebruik sal word.

Volgens die Stad volg die projek op ’n soortgelyke sonkraginstallasie van R14,6 miljoen by die Kraaifontein-rioolwatersuiweringswerke, wat in Augustus 2024 bekend gestel is.
Alderman Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir energie, sê beleggings in hernubare-energie-infrastruktuur help om die Stad se afhanklikheid van die elektrisiteitsnetwerk te verminder, bedryfskoste te verlaag en die koolstofvoetspoor te verklein.
Die Atlantis-projek sluit ook veiligheidsmaatreëls soos kringtelevisiekameras en veiligheidsbeligting in. Rugsteunkrag kan tot 6,5 uur se beligting tydens ’n kragonderbreking voorsien. Die projek het boonop werksgeleenthede vir 11 plaaslike werkers geskep.
Limberg sê die Stad het onlangs ook Suid-Afrika se eerste munisipaalgeboude hibriedkragstasie in Atlantis bekend gestel. Dié fasiliteit, wat R220 miljoen gekos het, beskik oor 12 850 sonpanele en twee batterye op nutskaal. Dit beslaan 15 ha, ongeveer die grootte van 21 rugbyvelde.
Die Stad sê dié projekte vorm deel van sy pogings om energievoorsiening meer betroubaar en volhoubaar te maak.
Ander energie-inisiatiewe wat die Stad gedurende die huidige munisipale termyn aangepak het, sluit in die ondertekening van twee kragkoopooreenkomste met onafhanklike kragprodusente. Dit kan tot 21% onder Eskom se tariewe bespaar.
Die Stad se munisipale energiedoeltreffendheidsprogram, wat onder meer die opknapping van straatbeligting en geboue asook sonkraginstallasies insluit, het volgens die Stad reeds meer as 427 GWh elektrisiteit bespaar. Dit verteenwoordig ’n geraamde besparing van sowat R625 miljoen.
Sedert Junie 2024 het inwoners en ondernemings ook R67 miljoen verdien deur 150 GWh se oortollige sonkrag aan die Stad terug te verkoop in ruil vir krediete op munisipale rekeninge of kontant.
Die Stad beplan verder om ’n munisipale hibriedkragaanleg met ’n kapasiteit van 70 MW, wat sonkrag en batteryberging kombineer, teen 2029 by Paardevlei te ontwikkel.
LEES OOK: Kragsentrale gee nou helder hoop




You must be logged in to post a comment.