ATLANTIS – ‘n Belangrike mylpaal in Suid-Afrika se energiesektor is op Donderdag 8 Oktober bereik met die amptelike bekendstelling van die land se eerste hibriede kragstasie wat deur ‘n metro gebou is.
Geordin Hill-Lewis, die burgemeester van Kaapstad, het die Helderhoopson-en-batterybergingskragsentrale bekendgestel, vergesel deur raadslid Xanthea Limberg, die burgemeesterskomiteelid vir energie.
Die aanleg van R220 miljoen beslaan sowat 15 hektaar – ongeveer die grootte van 21 rugbyvelde – en bestaan uit 12 850 sonpanele en twee groot batterystelsels.
Volgens Hill-Lewis is een van die belangrikste voordele van dié nuwe aanleg dat die elektrisiteit wat dit opwek, goedkoper as Eskom se krag sal wees. Die Stad verwag inwoners sal oor die volgende 20 jaar minstens R400 miljoen kan bespaar. “Ons vaste voorneme is om ons afhanklikheid van Eskom se duur krag en groot jaarlikse verhogings te verminder,” het Hill-Lewis gesê.
Die burgemeester het ook beklemtoon die projek wys hoe munisipaliteite ‘n groter rol kan speel om hul eie energie-toekoms te bou en terselfdertyd afhanklikheid van Eskom te verminder.

Die naam Helderhoop, wat “bright hope” beteken, is deur ‘n plaaslike matriekleerder, Vinolio Cloete van Saxonsea Sekondêr, voorgestel. Die naam is ná ‘n openbare kompetisie gekies.
Volgens Cloete kombineer die naam die konsepte van lig, energie en hoop vir ‘n beter toekoms vir Atlantis. Sy het aangedui dat sonkrag nie net skoon energie bied nie, maar ook die potensiaal vir werkgeleenthede, ontwikkeling en nuwe geleenthede in die gemeenskap skep.
Die aanleg is nou volledig gebou en werk onder beheerde toetsomstandighede as deel van die ingebruiknemingsproses.
Volgens Limberg is ongeveer 305 werksgeleenthede tydens die konstruksiefase geskep. Sy het gesê die projek het ook aan werkers waardevolle vaardighede, opleiding en ervaring in hernubare-energie-infrastruktuur gebied.
Die projek is deel van Kaapstad se breër poging om energiesekerheid te verbeter. Die Stad het onder meer reeds kragkoopooreenkomste met onafhanklike kragprodusente gesluit, wat volgens die Stad tot 21% goedkoper as Eskom se tariewe kan wees.
Die Stad sê sy energie-doeltreffendheidsprogramme het tot dusver meer as 427 gigawatt-uur elektrisiteit bespaar en ongeveer R625 miljoen se besparings opgelewer.
In Atlantis word die nuwe kragstasie ook as deel van ‘n groter ontwikkelingstendens gesien. Hill-Lewis het verwys na die opgradering van die Wesfleur-stadion, verbeterings aan MyCiTi-bushaltes en voortgesette kommersiële investering in die Atlantis- spesiale ekonomiese sone.
Met Atlantis wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier, is Helderhoop ‘n verdere rede vir hoop en ontwikkeling in die gemeenskap.
LEES OOK: Ontwikkeling gaan menige help




