ATLANTIS – ‘n 23-jarige man is Saterdag 3 Oktober in Robinvale in hegtenis geneem nadat lede van die Atlantis-polisie se misdaadvoorkomingseenheid op ‘n skietvoorval in Rooibekkiestraat reageer het.
Volgens die polisie het lede van die eenheid met hul aankoms op bekende bendelede in die park in Starlingweg afgekom.
Die polisie het daarna na die verdagte wat aan hulle beskryf is, gegaan om hom te deursoek. Die 23-jarige het glo probeer vlug en ‘n vuurwapen op die dak van ‘n gebou gegooi.
Die vuurwapen is onmiddellik opgespoor en in beslag geneem.
Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte van die onwettige besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, asook die besit van tik. Hy sal na verwagting in die Atlantis-landdroshof verskyn sodra hy amptelik aangekla is.
Die polisie se optrede is deel van voortgesette pogings om misdaad en bendebedrywighede in Atlantis te bekamp.
LEES OOK: Drie mans in Atlantis ná vinnige jaagtog vasgetrek




