ATLANTIS – ’n 18-jarige man is Maandag 26 Oktober in Robinvale in hegtenis geneem nadat die polisie ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in sy woonplek gevind het.
Lede van die Atlantis-misdaadvoorkomingseenheid het in die oggendure ’n lasbrief by ’n perseel in Coly Lane uitgevoer nadat hulle inligting oor ’n vuurwapen ontvang het.
Volgens sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie terwyl hulle die perseel deursoek het, op ’n 9 mm-pistool en 140 rondtes ammunisie in die slaapkamer afgekom. Daar is op die vuurwapen beslag gelê.
Die verdagte sal na verwagting Woensdag 28 Oktober in die Atlantis-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en onwettige besit van ammunisie.
LEES OOK: 23-jarige in hegtenis ná skietery in Rooibekkiestraat





