Hermeslaan Primêre Skool se o.13-rugbyspan het sy beste vir laaste gehou toe hy die 2026-skolerugbyseisoen op ‘n hoë noot afgesluit het en Saxonsea Primêr in die Atlantisprimêreskolerugby-kompetisie geklop het om as kampioen gekroon te word.
Dié twee skole, wat vroeër vanjaar in ‘n derby-kragmeting slaags was en gelykop geëïndig het, maar na ekstra tyd 10-15 verloor het, het gewis sy beste vir laaste gehou,
Volgens die afrigters, Kurt Julies en Stephano Matthyse, het die span dié seisoen merkwaardig ontwikkel en bestaan uit onder-11- en 12-seuns.
Ná die derbykragmeting is kajuitraad gehou en met die idee vorendag gekom om plaaslike afrigters van die plaaslike rugbyklubs te betrek, omdat hulle weens ander kurrikulêre bedrywighede nie altyd daar kan wees nie.
“Soms moes ons ná skool of naweke onderwyswerksessies bywoon, wat dit soms vir ons moeilik maak om rugby-oefeninge te fasiliteer of by te woon,” het Julies gesê.
“Dit het nie net ons verhoudinge met die klubafrigters verbeter nie, maar ook ons samewerking as skool en klubs verder uitgebrei.
“Hoewel daar nie altyd oefenvelde beskikbaar was om op te oefen nie, het ons menige kere die skool se sementvierkant gebruik, wat die spelers net verder gemotiveer het om goed te vaar.”
“Ons het ook die vierkant gebruik om fisieke oefeninge te doen om hulle liggaamlik sterker te bou, en dan het ons ook aan hul emosionele kant aandag geskenk sodat hulle in hulself kan glo dat hulle net so goed as hul teenstanders kan vaar.”
Hulp van klubafrigters
Klubafrigters het met die fyner kunsies van afrigting gehelp.
“Dit het ons veral by die derby-kragmeting gemis. Omdat hierdie afrigters op ‘n hoër vlak speel, het hul ervaring en kennis gewis ‘n uitwerking op die seuns gehad. Omdat van die seuns hul klubrugby by Hamlets speel, was dit ook ‘n voordeel,” het Matthyse gesê.
“Uitdagings soos finansiële bystand het ook ‘n groot invloed op die span gehad, want soms het van die spelers nie vir wedstryde opgedaag nie, omdat sommige ouers dit nie altyd kan bekostig nie.
“Dit is iets waaraan ons aandag skenk vir die nabye toekoms om plaaslike ondernemings te betrek om hierdie uitdagings vir ons spelers te verminder.”
Deur hul eerste kampioenskapstitel in meer as 40 jaar te wen, het Hermeslaan se o.13-rugbyspan hul talent getoon en gewys die Derby-kragmeting was ‘n leerproses.
“Met ondersteunende afrigters soos Jamie Lakay, Leethan Pieters, Shaun Daniels en Dean Storm asook Hamlets Junior se klubafrigters, het ons skole se span merkwaardig gegroei en kan dinge net verder verbeter, het Matthyse en Julies afgesluit.




