Good (2) en MK (1) maak Atlantis-kandidate bekend

Carol Arendse.
Carol Arendse.

Good (2) en MK (1) maak Atlantis-kandidate bekend

Carol Arendse.
Carol Arendse.

Joy Davids, Good-party, Wyk 29:

“Atlantis se inwoners verdien beter dienslewe­ring, waardige behuising, werksgeleenthede en ‘n veilige gemeenskap,” sê Joy Davids, die Good-party se kandidaat vir wyk 29.

Davids woon al 49 jaar in Atlantis en het die gemeenskap se ontwikkeling deur verskillende politieke tydperke beleef – van die laaste jare van Apartheid tot die aanbreek van demokrasie. Volgens haar het die verwagte verandering en vooruitgang egter te stadig plaasgevind, terwyl baie inwoners steeds met armoede, werkloosheid, behuisingstekorte en gebrekkige dienslewering worstel.

Haar politieke belangstelling het reeds in 1990, toe sy in standerd 6 (graad 8) was, begin. Sy onthou hoe leerders tydens skoolbyeenkomste “Free Nelson Mandela” gesing het en hoe sy geïnspireer is deur die leierskap en dissipline van gemeenskapsleiers. Aanvank­lik het sy geglo verandering was hoofsaaklik die verantwoordelikheid van die regering en organisasies. Mettertyd het sy besef inwoners moet self ook deel van die oplossing wees.

“Waar jy woon, maak saak,” is een van haar kernboodskappe.

Indien sy as raadslid verkies word, wil Davids ‘n dringende oudit van uitstaan­de diensleweringsklagtes, munisipale navrae en onopgeloste aansoeke om hulp aan behoeftige inwoners aanvra. Sy stel ook weeklikse mobiele dienskantore in elke stemdistrik voor, sodat inwoners makliker toegang tot munisipale dienste kan kry. Gereelde gemeenskapsvergade­rings en werksessies sal volgens haar help om kommunikasie en inwoners se begrip van munisipale beleide verbeter.

Behuising en ekonomiese geleenthede is verdere prioriteite. Davids wil pleit vir die beskikbaarstelling van meer grond vir behuising, insluitend RDP- en GAP-behuising. Sy wil ook die behui­singslys laat oudit om vas te stel of huise volgens die voorgeskrewe kriteria toegeken word.

Wat werkloosheid betref, wil sy met plaaslike ondernemings, opleidingsinstellings, werkgewers en die regering saamwerk om vaardigheidsontwikkeling, leerlingskappe, internskappe en werksgeleenthede te bevorder. Sy beklemtoon dat geleenthede nie net vir die jeug nie, maar ook vir inwoners ouer as 35 jaar geskep moet word.

Veiligheid is nog ‘n belangrike uitda­ging. Davids wil samewerking tussen die polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), buurtwagte, sekuriteits­­maatskappye en ander rolspelers versterk. Sy wil ook aandag gee aan straatbeligting, veiliger openbare ruimtes en programme wat jongmense deur vaardigheidsontwikkeling en werksgeleenthede ondersteun.

Sy verbind haar verder tot groter deursigtigheid oor munisipale ­begrotings, projekbesteding en dienslewerings­prioriteite. Inwoners moet volgens haar ingelig word oor wat toegeken, afgehandel en steeds uitstaande is.

Haar voorgestelde inisiatief, “Operation Redress and Clean-Up”, sal op die regstelling van ongelykhede, skoner strate, verbeterde openbare ruimtes en groter munisipale aanspreeklikheid fokus.

“Less noise, more action” beskryf ­Davids se benadering tot leierskap. Sy glo inwoners se behoeftes moet deur praktiese optrede, samewerking en verantwoordbaarheid aangepak word.

Joy Davids.
Joy Davids.

Carol Arendse, Good, wyk 32:

Carol Arendse is is ‘n toegewyde gemeenskapslid wat omgee vir inwoners en die uitdagings waarmee hulle daagliks te kampe het. Deur haar werk by die Wesfleur-hospitaal, ‘n plaaslike radiostasie en Orion in Atlantis het sy waardevolle ervaring opgedoen in die omgang met mense en die belangrikheid van diens aan ander geleer.

Arendse het besluit om as wyksraads­lid verkiesbaar te wees omdat sy glo die inwoners van wyk 32 verdien ‘n verteenwoordiger wat na hulle sal luister, hul belange sal beskerm en hul probleme ernstig sal opneem. Sy wil ‘n sterk stem wees vir inwoners wat met werkloosheid, behuisingsprobleme, hoë elektrisiteits­koste en swak dienslewering sukkel.

Haar doel is om inwoners se bekommernisse na die toepaslike owerhede te neem, antwoorde te eis en gereeld op te volg totdat daar vordering is.

Indien sy verkies word, sal haar drie hoofprioriteite die bevordering van billike werksgeleenthede, uitdagings met die behuisingskwessies en hoë elektrisiteits­koste en die verbetering van munisipale dienslewering en kommunikasie wees. Arendse wil verseker dat inwoners se klagtes by die regte departemente aangemeld word en dat onopgeloste probleme nie geïgnoreer word nie. Sy glo inwoners verdien gereelde terugvoer oor die vordering met hul sake.

As iemand wat met ‘n gestremdheid leef, wil Arendse ook wys gestremdheid hoef nie ‘n hindernis vir leierskap, diensbaarheid of ‘n betekenisvolle bydrae tot die gemeenskap te wees nie. Sy is bereid om haar beste te gee en met toewyding vir die inwoners te werk. Hoewel sy nie kan belowe dat elke probleem oornag opgelos sal word nie, verbind sy haar daartoe om te luister, op te tree, op te volg en inwoners ingelig te hou.

Gemeenskapsveiligheid is vir Arendse ook belangrik. Sy wil jongmense aanmoedig om by buurtwagte betrokke te raak en samewerking tussen inwoners, die polisie en gemeenskapsorganisasies bevorder. Sy sal ook aandag gee aan die ondersteuning en toerusting wat buurtwagte benodig.

Wat werkloosheid betref, sal Arendse haar beywer vir billike en deursigtige toegang tot Uitgebreide openbare-werke-programme (EPWP), regeringskontrakte en ander werksgeleenthede. Sy wil inwoners help om inligting oor vakleerlingskappe, opleiding en beskikbare werk te bekom. Volgens haar behoort geleenthede nie af te hang van wie jy ken nie, maar van regverdige toegang en deursigtige prosesse.

Arendse se visie vir wyk 32 is ‘n gemeenskap waar inwoners gehoor word, hul probleme ernstig opgeneem word en hulle gereeld oor vordering ingelig word. Haar verbintenis is om toeganklik, verantwoordbaar en vasberade te wees en aan te hou werk om praktiese oplossings vir die gemeenskap te bevorder.

Nicholas "Cola" Jansen.
Nicholas “Cola” Jansen.

Nicholas “Cola” Jansen, MK-­party, wyk 32:

Nicholas “Cola” Jansen is die uMkhonto weSizwe-­party (MK-party) se kandidaat vir wyk 32 in Atlantis vir die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing. Met meer as 23 jaar se ervaring in die staatsdiens, insluitend polisiewerk en misdaadintelligensie, asook kennis van bestuur en sakeontwikkeling, wil hy sy ervaring gebruik om ‘n positiewe verskil in die gemeenskap te maak.

Jansen glo die inwoners van Atlantis verdien beter dienslewering, groter eko­nomiese geleenthede en verantwoordbare leierskap. Volgens hom moet inwoners ‘n betekenisvolle stem hê in besluite wat hul toekoms en die ontwikkeling van hul dorp beïnvloed.

Sy drie hoofprioriteite is behuising en basiese dienste, ekonomiese bemagtiging en voedselsekerheid, asook gemeenskapsveiligheid en jeugontwikkeling.

Wat behuising en dienslewering betref, wil hy die bestaande behuisings­agterstand ondersoek, probleme met elektrisiteitsrekeninge aanpak en op beter munisipale dienste aandring. Hy wil ook toesien dat probleme soos vullisverwydering, paaie, straatligte en die instandhouding van openbare ruimtes behoorlik opgevolg word. Deursigtigheid in munisipale begrotings en uitgawes sal volgens hom noodsaaklik wees om te verseker dat openbare geld die gemeenskap bevoordeel.

Op ekonomiese gebied wil Jansen groter toegang tot werksgeleenthede, vaardigheidsontwikkeling, leerlingskappe en ondersteuning vir plaaslike entrepreneurs bevorder. Hy stel ook voor dat gemeenskapstuine op geskikte oop ruimtes gevestig word om voedselsekerheid te verbeter, honger te help bekamp en gemeenskapsbetrokkenheid aan te moedig.

Veiligheid en jeugontwikkeling vorm eweneens ‘n belangrike deel van sy plan. Met sy agtergrond in polisiëring en misdaadintelligensie wil hy samewerking tussen die Suid-Afrikaanse Polisiediens, munisipale wetstoepassing, gemeenskaps­polisiëringsforums (GPF’s), buurtwagte en inwoners versterk. Hy wil ook sport- en jeuginisiatiewe ondersteun, waaronder die Extension 12 Sunday Soccer League, om jongmense aan positiewe aktiwiteite bloot te stel en rehabilitasie te bevorder.

Indien hy verkies word, wil hy ‘n wyk 32-gemeenskapsaksieprogram begin om dringende probleme te identifiseer en te prioritiseer. Gereelde wyksvergaderings en vorderingsverslae sal inwoners help om hul verteenwoordiger verantwoordbaar te hou. Hy wil ook gesprekke begin oor ‘n betekenisvolle viering van ­Atlan­tis se 50ste bestaansjaar ter erkenning aan die mense wat tot die dorp se ontwikkeling bygedra het.

Jansen verbind hom tot leierskap wat inwoners se belange eerste stel, ongeag hul politieke affiliasie.

Hy glo Atlantis se toekoms moet deur sy inwoners help vorm word en dat munisipale hulpbronne verantwoordelik aangewend moet word.

Sy boodskap is duidelik: Dit is tyd dat Atlantis eienaarskap van sy toekoms neem.

LEES OOK: Hoe sou jou manifes lyk?

NovaNews WhatsApp channel QR code
Kategorieë:

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026
    WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026

Gift this article