Madelaine Goodall, PMC, Wyk 29-kandidaat

Madelaine Goodall is nie ‘n nuweling in gemeenskapswerk nie. Sy woon al 29 jaar in Atlantis en het haar gemeenskaps­diens as jong vrou by die Atlantis Resource Centre en Atlantis Women’s Movement begin, waar sy kwesbare inwoners ondersteun het. Vandag bring sy dié ervaring, saam met haar agtergrond as kleinsake-eienaar en verkoopsleier, as wyksraadslid na haar kandidatuur.

Goodall sê haar besluit om verkiesbaar te wees, spruit uit ‘n eenvoudige beginsel – om iets terug te gee aan die gemeenskap wat haar gevorm het. Sy wil ‘n sterk, toeganklike stem wees vir inwoners en ­seker maak dat probleme nie net aangemeld word nie, maar voortdurend opgevolg word.

Haar fokus is duidelik – behuising, veilig­heid en ekonomiese geleenthede.

Behuising is ‘n dringende prioriteit, veral waar oorbevolking en agterplaasstrukture druk op gesinne plaas. Goodall wil beter kommunikasie en deursigtigheid rakende behuisingsprosesse bevorder en inwoners help om hul sake deur die korrekte kanale op te volg.

Wat veiligheid betref, wil sy sterker samewerking tussen die polisie, wetstoepassers, buurtwagte, skole en inwoners bevorder, terwyl meer aandag aan jeug­ontwikkeling, sport, vaardighede en ­middelmisbruik-voorkoming gegee word.

Om werkloosheid te takel, wil sy inwo­ners met plaaslike ondernemings, vaardigheidsprogramme, internskappe en entrepreneurskapgeleenthede verbind. Sy glo Atlantis se jongmense het talent en potensiaal, wat beter benut moet word.

Goodall se benadering is prakties – luis­ter, tree op, volg op en gee terugvoer. Sy belowe nie wat ‘n raadslid nie kan lewer nie, maar sê sy sal inwoners se probleme ernstig opneem, munisipale departemente aanspreeklik hou en eerlik kommunikeer.

Madelaine Goodall
Madelaine Goodall

Vir Goodall gaan openbare diens uiteindelik oor een ding: om vir die mense van Atlantis daar te wees.

Ashley Poole, PMC, Wyk 32-kandidaat

Ashley Poole is al 26 jaar ‘n inwoner van Atlantis en beskryf homself as ‘n gemeenskapsaktivis wat hom beywer om die stem van inwoners te versterk. Hy is getroud met Pamela Poole en is die pa van Ethan en Cassidy. Sy betrokkenheid by politiek het reeds op hoërskool begin.

Poole se ervaring sluit onder meer gemeenskapswerk, openbare betrekkinge en kommunikasie in. Hy is ook ‘n projekkoördineerder van ‘n buurtwag en werk as eiendomspraktisyn. Volgens hom is sy grootste passie om as kommunikeerder en woordvoerder op te tree en seker te maak inwoners se bekommernisse word gehoor.

Hy sê sy besluit om hom as kandidaat beskikbaar te stel, spruit uit sy jare lange diens aan die gemeenskap. “Ek wil die stem van die stemloses wees,” sê hy.

Sy doel is om sterker gemeenskappe te bou, waar inwoners self eienaarskap neem en saamwerk om verandering te bewerkstellig.

Poole identifiseer veilige ruimtes, gemeenskapseienaarskap en aanspreeklik­heid as kernprioriteite. Hy wil hê inwoners moet meer betrokke wees by wat in hul wyk gebeur en sê leiers moet aanspreeklik gehou word teenoor die mense wat hulle dien.

Volgens Poole is ‘n gebrek aan infrastruk­tuur, waaronder behoorlike sypaadjies, speelgronde en ontspanningsgeriewe, een van die groot uitdagings in Wyk 32. Hy glo sulke geriewe is belangrik vir ‘n gesonde en aktiewe gemeenskap.

Om veiligheid te verbeter, wil hy buurtwag- en gemeenskapsveiligheidstrukture in elke gebied versterk, terwyl bewusma­kingsprogramme inwoners aanmoedig om betrokke te raak.

Wat werkloosheid betref, wil Poole vaardigheidsontwikkelingsprogramme bevorder, wat inwoners kan help om meer selfstandig te word.

Hy sê beter dienslewering vereis ook beter kommunikasie. Sy voorstel is dat inwoners binne 24 tot 48 uur terugvoer oor aangemelde probleme moet ontvang.

Vir Poole begin verandering by ‘n ­skoner, veiliger gemeenskap, waar almal bereid is om verantwoordelikheid te neem.

Abigail Brown, ActionSA, Wyk 32-kandidaat

“My reis het nie by politiek begin nie – dit het by mense begin.”

Abigail Brown is ‘n ma, eggenote, ambagsvrou en gemeenskapsaktivis, wat al langer as 22 jaar as ambagsvrou werk. Haar betrokkenheid by gemeenskaps­ontwikkeling het sowat vyf jaar gelede begin en het haar toenemend by opleiding, vaardigheidsontwikkeling en ondersteuning aan inwoners betrokke gemaak.

Abigail Brown
Abigail Brown

Brown sê haar ervaring met werkloosheid, armoede en gesinne wat sukkel, het haar gemotiveer om ‘n groter rol in openbare diens te vervul. Sy het veral op jongmense én mense ouer as 35, wat sukkel om werk te kry, begin fokus.

Sy sê haar werk begin nie eers ná ‘n verkiesing nie. Sy is reeds betrokke by gesprekke met inwoners en organisasies om vas te stel wat werk, waar die gapings is en hoe bestaande strukture versterk kan word.

Haar drie prioriteite is jeugontwikkeling en werksgeleenthede, veiligheid en beter dienslewering.

Volgens Brown moet jongmense toegang hê tot vaardigheidsontwikkeling, mentor­skap, sport, entrepreneurskap en werksgeleenthede. Sy wil egter ook aandag gee aan werklose volwassenes ouer as 35 en wat oor vaardighede en ervaring beskik.

Op die gebied van veiligheid wil sy met bestaande gemeenskapsveiligheidstrukture, skole, organisasies en inwoners saamwerk. Sy beklemtoon dat voorkoming net so belangrik soos reaksie is en dat jongmense positiewe alternatiewe vir dwelms en bende­betrokkenheid moet hê.

Wat dienslewering betref, wil Brown seker maak inwoners weet waar om probleme aan te meld en dat sake opgevolg word. Sy sê ‘n raadslid moet ook eerlik wees oor watter sake onder munisipale, provinsiale of nasionale regering val.

Brown identifiseer werkloosheid, ­armoe­de, beperkte geleenthede en verlies aan hoop as onderling verbonde uitda­gings.

Haar boodskap is eenvoudig: “Ek kom om te werk.” Sy wil bestaande mense, organisasies en geleenthede beter verbind, sodat inwoners toegang kan kry tot die ondersteuning en geleenthede, wat reeds beskikbaar is.

LEES OOK: https://novanews.co.za/weskusnuus/hoe-sou-jou-manifes-lyk/

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition -29 September 2026
    WeskusNuus E-Edition -29 September 2026

Gift this article