Die pad na herstel gaan vir Shaneka Johnson, die slagoffer van ‘n aanval met suur, ‘n lang proses na herstel wees.
Johnson het reeds verskeie operasies ondergaan en ‘n deel van haar oor is verwyder nadat sy na bewering met ‘n bottel suur aangerand is.
Johnson het aan WeskusNuus vertel sy word nou deur jong mans, wat onlangs uit die tronk vrygelaat is, gedreig om die saak terug te trek. “My lewe is verwoes. My lewe is ‘n hel van pyn. My lewe moet herbou word en mense verwag ek moet net wegstap. Dit gaan nie in my leeftyd gebeur nie,” het sy in erge pyn gesê.

Johnson verduidelik aangesien baie operasies nog vir haar voorlê, is ‘n plaat reeds in haar skedel geplant omdat die suur haar kop erg beskadig het. “Nou verwag mense ek moet van alles vergeet.”
Volgens die gemeenskapsaktivis Madelaine Goodall, wat Johnson ondersteun, kry sy nie juis baie ondersteuning van die polisie nie. Goodall sê die dreigemente moet in ‘n ernstige lig beskou word. “Die vrou gaan reeds deur hel. Dit is die polisie se plig om haar te beskerm,” het sy gesê.
Alvin “Lippe” Smith (38), die sogenaamde “suurmonster”, is Woensdag 8 April in die Atlantis-landdroshof borgtog geweier.
Smith word daarvan beskuldig dat hy op Sondag 15 Maart ‘n bottel suur oor Shaneka Johnson (25) se kop uitgegooi het.

Die landdros het in sy uitspraak oor borgtog gesê dit is nie in die belang van geregtigheid dat die verdagte op borgtog vrygelaat word nie. Hy het ook die verdediging se pleidooi – dat die verdagte aan die hof getrou sou bly en nie sou vlug nie – verwerp.
Hy het verder gesê hy stem saam met die staat dat ‘n sterk saak teen Smith bestaan en dat die verdagte die hof belieg het deur aan te voer dat hy nog nooit met die gereg gebots het nie.
Smith het aan die hof gesê hy is “bang vir die tronk” en “verdien borgtog” omdat hy ‘n “saggeaarde en vredeliewende” mens is. Hy het ook in sy borgtogaansoek getuig dat hy “nog nooit met die gereg gebots het nie”.
Die verdagte het verlede week vlugtig in die hof verskyn en sal weer op 14 Augustus verskyn.






