Inwoners van Atlantis is woedend en vra dat die verdagte borg geweier word. Foto: Murphy Roberts
Inwoners van Atlantis is woedend en vra dat die verdagte borg geweier word. Foto: Murphy Roberts

Alvin “Lippe” Smith (38), die sogenaamde “suurmonster”, het Woensdag 1 April in die Atlantis-landdroshof verskyn om aansoek te doen om borgtog.

Smith word daarvan berskuldig dat hy op Sondag 15 Maart ‘n bottel suur oor Shaneka Johnson (25) se kop uitgegooi het.

Lippe het aan die hof gesê hy is “bang vir die tronk” en hy verdien borgtog omdat hy ’n saggeaarde en vredeliewende persoon is.

Lippe het in sy borgaansoek getuig dat hy nog nooit met die gereg gebots het nie, maar die Staat het egter die teendeel bewys. Die klag is van aanranding met die doel om ernstig te beseer verander na poging tot moord.

Volgens die verdagte se getuienis het hy nie geweet daar is suur in die bottel nie. Hy het aan die hof verduidelik hy was glo onder die indruk daar is water in, aangesien baie mense met waterbotteltjies rondgeloop het.  

Sers. Dean Adams verduidelik aan gemeenskapsaktivis Madelaine Goodall hoe die borgtog-aansoekproses werk. Foto: Murphy Roberts

Volgens die aanklaer het Lippe reeds die bottel suur gehad en presies geweet wat daarin is, aangesien hy die slagoffer vooraf gedreig het.

Volgens die aanklaer is Lippe reeds in 2010 skuldig bevind aan poging tot roof. Die ondersoekbeampte, sers. Dean Adams, het Dinsdag 7 April getuig dat die verdagte se lewe moontlik in gevaar kan wees omdat die gemeenskap woedend is oor sy beweerde daad. Adams het ook die slagoffer se beserings in detail aan die hof verduidelik.

Volgens die ondersoekbeampte is daar ’n getuie wat sal kom getuig oor wat presies gebeur het.

“Dit gaan ’n lang pad na herstel wees, maar ek is positief,” het Shaneka Johnson vanuit haar hospitaalbed in Tygerberg-hospitaal gesê. Shaneka se lewe is meer as drie weke gelede in ’n hel van pyn verander toe ’n bottel suur oor haar kop uitgegooi is.

“Die verdagte het my beskuldig dat ek sy selfoon gesteel het,” het sy aan WeskusNuus verduidelik terwyl sy in erge pyn verkeer het. “Ek het verduidelik dat ek nie sy selfoon geneem het nie, maar hy wou niks hoor nie. Ek het hom my selfoon gewys, maar hy het volgehou ek het syne geneem.”

Dit gaan n lang pad na herstel vir Shaneka Johnson in die Tygerberg-hospitaal wees.

“Die volgende oomblik het my kop begin brand en het ek die mees ondraaglike pyn ervaar,” vertel sy. Volgens Shaneka is die een helfte van haar oor reeds afgesit, en wag daar ’n reeks veloorplantingsoperasies om te red wat daar te redde is.

Die borgaansoek gaan vandag voort, met die verdediging wat na verwagting met kruisondervraging gaan begin.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article