Eienaar Vangeli Moustakas, beter bekend as “Mr V”, pas nadat hy die prys in Spanje ontvang het.

Atlantis se OK Foods wen vet prys

Eienaar Vangeli Moustakas, beter bekend as “Mr V”, pas nadat hy die prys in Spanje ontvang het.

Atlantis het rede om trots te wees nadat OK Foods Atlantis die gesogte King of Private Label-toekenning by die 2026- OK Franchisee of the Year-­prysuitdeling gewen het.

Die eienaar, Vangeli Moustakas, wat onder klante liefdevol as “Mnr. V” bekend staan, het die toekenning tydens ‘n seremonie in Sevilla, Spanje, ontvang.

Vir Moustakas is die prestasie veel meer as net ‘n persoonlike oorwinning. Hy beskou dit as ‘n erkenning van die personeel, klante en gemeenskap wat die onderneming deur die jare ondersteun het.

“Sonder die gemeenskap sou ek nie op daardie verhoog ge­staan het nie,” het hy gesê.

Die winkel se reis het ‘n belangrike mylpaal bereik toe die bestaande geriefswinkel op 10 Desember 2020, te midde van die Covid-pandemie, sy opgegradeer­de OK Foods-formaat bekend gestel het.

Groter verskeidenheid

Die opknappings is in fases uitgevoer terwyl die winkel steeds oopgebly het. Die verbeterings het ‘n groter verskei­denheid kruideniersware, vrugte en groente, vleis en ‘n wynafdeling ingesluit.

Die onderneming het in Maart 2025 verder uitgebrei met die opening van ‘n OK Liquor-winkel langsaan.

“Ek het Atlantis vir ‘n rede gekies. Ek wil hier wees,” het Moustakas gesê.

Volgens Moustakas het OK Foods Atlantis die hoogste persentasiebydrae van privatehandelsmerkprodukte tot algehele verkope onder OK-winkels in Suid-Afrika en Namibië behaal.

Privatehandelsmerkprodukte sluit produkte in wat deur ‘n kleinhandelgroep besit of bemark word.

Die toekenning erken die aandeel wat hierdie produkte in die winkel se algehele verkope verteenwoordig en beteken nie noodwendig dat die winkel die grootste verkoopsvolume gehad het nie.

Klante het die personeel se vriendelikheid en diens geloof.

Naynay Smith het geskryf: “Julle behandel ons soos ­familie.”

Sabrina Hargreaves het ook die span vir hul vriendelike diens geprys.

Prys internasionaal; tuis gevier

Die oorwinning is plaaslik met ‘n rooi-en-wit koek, wat deur die winkel se eie bakkery­span gemaak is, gevier.

Die winkel dra ook by tot plaaslike werkskepping. Volgens die bestuur het drie onlangs geadverteerde poste oornag bykans 500 aansoeke gelok. Drie plaaslike mense is ná die ­keuringsproses aangestel.

Moustakas erken die groot behoefte aan werk in Atlantis en hoop om volhoubare werksgeleenthede te skep namate die onderneming groei.

“Ek is deel van die gemeen­skap en sal altyd deel van die gemeenskap wees,” het hy gesê.

Die prys is ‘n belangrike mylpaal vir OK Foods Atlantis en ‘n geleentheid om hulde te bring aan die mense wat die onderneming se groei moontlik maak.

Vir Moustakas bly die doel eenvoudig: om die gemeenskap te dien en altyd te help waar hy kan.

LEES OOK: Atlantis-geskiedenis word uitgestal by biblioteek

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026
    WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026

Gift this article