RDP huise in Atlantis.
RDP huise in Atlantis.

Inwoners gewaarsku oor RDP behuisingsbedrog


ATLANTIS – Inwoners word gewaarsku om op hul hoede te wees vir ‘n beweerde behuisingsbedrogspul waarin mense glo R35 000 vir ‘n RDP-huis gevra word, met ‘n aanvanklike deposito van R5 000.

Die Stad Kaapstad het bevestig dat ‘n amptenaar van die afdeling vir ­menslike nedersettings op Facebook van die beweer­de bedrogspul bewus geword het. Die inligting is intussen na die toepaslike owerhede verwys, maar die Stad sê hy beskik nie oor verdere besonderhede nie en is tans nie bewus van enige bevestigde slagoffers nie.

Volgens die Stad word inwoners daaraan herinner dat geen betaling vereis word om op die behuisingsbehoefteregister te registreer of om vir ‘n staatsgesubsidieerde huis in aanmerking te kom nie.

Die waarskuwing kom te midde van ‘n groter probleem met bedrieërs wat inwoners op verskillende maniere teiken.

Die Stad waarsku dat swendelaars hulle dikwels as munisipale amptenare voordoen en mense deur WhatsApp, Facebook en ander kommunikasiekanale probeer mislei om geld te betaal.

Die bedrogspul strek glo verder as behui­sing. Inwoners word ook geteiken met vals boodskappe oor uitstaande munisipale rekeninge, dreigemente dat water- en elek­trisiteitsdienste afgesny gaan word, verkeersboetes en “werksgeleenthede”.

Die Stad het dit duidelik gestel dat geen amptenaar betaling in ‘n persoonlike bankrekening, deur e-beursies of via ander informele betaalmetodes mag eis nie. Die Stad gebruik nie WhatsApp om inwo­ners oor agterstallige rekeninge of dreigende diensonderbrekings in kennis te stel nie.

Die raadsheer Siseko Mbandezi, die Stad se burgemeesterskomiteelid vir finansies, het inwoners aangemoedig om eers stil te staan en inligting te verifieer voordat hulle enige betaling maak. Hy het beklemtoon dat inwoners slegs amptelike Stad-betaalkanale moet gebruik.

Inwoners wat onseker is oor ‘n behui­singsaanbod, kan die inbelsentrum vir die afdeling menslike nedersettings by

021 444 0333 kontak om die egtheid daarvan te bevestig. Verdagte aktiwiteite kan ook by die Stad se inbelsentrum by 0860 103 089 of die bedrogblitslyn by 0800 32 31 30 aangemeld word. Inwoners kan ook e-pos na fraud.hotline@capetown.gov.za stuur of hul naaste polisiekantoor kontak.

Die Stad het bevestig geen strafsaak is in verband met hierdie spesifieke beweerde bedrogspul by die polisie aangemeld is nie. Die inligting is egter aan die betrokke owerhede oorhandig.

Die boodskap aan inwoners is eenvoudig: Moenie betaal vir ‘n behuisingsgeleentheid wat as ‘n staatsgesubsidieerde huis aangebied word nie. Verifieer eers die aanbod deur amptelike kanale. As ‘n aanbod te goed klink om waar te wees, is dit dalk ‘n waarskuwingsteken. Inwoners word gevra om die waarskuwing met familie, vriende en bure te deel sodat meer mense bewus kan wees van die risiko en nie hul swaar­verdiende geld verloor nie.

LEES OOK: Thusong, housing scams, projects

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026
    WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026

Gift this article