Ten spyte van kritiek was Atlantis se 50-jarige feesvieringe ‘n groot sukses, volgens Allister Lightburn, die voorsitter van subraad 1.
Volgens Lightburn het byna 4 000 mense die tweedaagse feesvieringe bygewoon, waar besoekers deur plaaslike kunstenaars vermaak is.

Lightburn sê hy is bewus van die kritiek en sosialemediagerugte oor die vergoeding van kunstenaars wat tydens die geleentheid opgetree het. Hy het veral kapsie gemaak teen bewerings dat plaaslike kunstenaars slegs R300 betaal is, terwyl twee kunstenaars van buite Atlantis na bewering ‘n groot deel van die begroting ontvang het.
Volgens Lightburn kon hy nie self by die onderhandelinge met kunstenaars betrokke raak nie, aangesien ‘n administratiewe proses gevolg is. Hy het egter volgehou dat die bewerings oor plaaslike kunstenaars se vergoeding volgens hom ongegrond is.
WeskusNuus het met twee plaaslike kunstenaars gepraat, wat bevestig het dat hulle die optreefooie waarvoor hulle gevra het, ontvang het.

Die kunstenaars het ook hul misnoeë uitgespreek oor die gerugte dat hulle glo maar net moes aanvaar wat hulle aangebied is. Hulle het bevestig dat hul vergoeding ooreengekom is en dat die bewerings nie met hul ervaring strook nie.
Intussen het Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, die 50-jarige bestaan van Atlantis as ‘n belangrike mylpaal in die stad se geskiedenis beskryf.
“Ons is trots en verheug om Atlantis se 50-jarige bestaan te vier – 50 jaar van mense, families, ondernemings en gemeenskapsgees,” het Hill-Lewis gesê.
Volgens die burgemeester bied die mylpaal ‘n geleentheid om erkenning te gee aan Atlantis se geskiedenis en die belangrike rol wat die gemeenskap in Kaapstad se toekoms kan speel.

Hy het gesê Atlantis het oor die afgelope vyf dekades aansienlik verander. Hoewel die dorp se ontstaan deel is van Suid-Afrika se moeilike geskiedenis, behoort die fokus nou ook te val op die diverse, dinamiese en ambisieuse gemeenskap wat hier opgebou is.

Inwoners dra volgens hom deur hul werk, ondernemings, skole, sport en gemeenskapsorganisasies steeds tot Kaapstad se verhaal by.
“Die ontwikkeling van Atlantis duur voort en daar is nog baie om na uit te sien – meer investering, meer geleenthede, sterker gemeenskappe en ‘n blink toekoms vir almal wat hier woon,” het Hill-Lewis afgesluit.

Die feesvieringe het dus nie net ‘n halfeeu van Atlantis gevier nie, maar ook die gemeenskap se bydrae en die hoop op verdere ontwikkeling en geleenthede.






