Atlantis, die verlore stad wat in 1970 deur die apartheidsregering geskep is, het onlangs ‘n mylpaal van 50 jaar bereik. Wat bedoel was as ‘n “bruin gebied” om gemeenskappe te skei, het mettertyd ‘n simbool van weerstand en volharding geword. Die geskiedenis van Atlantis is verweef met die verhaal van Sylvia Brand, ‘n aktivis, gemeenskapsleier en later die eerste wyksraadslid van die dorp in die nuwe demokratiese bedeling.

Sylvia Brand, die bekende vuurvreter-aktivis, was die eerste vroulike raadslid in die oorgangsfase na demokrasie in Atlantis. Foto: David Rossouw
Sylvia Brand, die bekende vuurvreter-aktivis, was die eerste vroulike raadslid in die oorgangsfase na demokrasie in Atlantis. Foto: David Rossouw

Toe die regering destyds fabrieke opgerig het, is bruinmense gelok met beloftes van werk en behuising. Maar toe die subsidies opdroog, het die fabrieke hul deure gesluit en gesinne is aan hul eie lot oorgelaat. Brand was een van die inwoners wat onder valse voorwendsels hierheen gekom het. Sy het gehoop om ‘n huis en werk te kry om vir haar drie kinders te sorg, maar het gou besef die Afdelings­raad het mense sonder genade uit hul huise gesit as hulle nie hul rekeninge kon betaal nie.

Die gemeenskap het egter nie stilgebly nie. In die 1980’s het Atlantis-inwoners optogte na die distrikskantoor gehou en memorandums oorhandig om hul mens­waardigheid te eis. Brand was in die voorste linies van hierdie stryd. Sy het beleef hoe amptenare mense soos diere behandel het deur gemeenskaplede te bebruik om hul vuilwerk te doen, maar sy het ook gesien hoe die gemeenskap saamstaan en hul stem laat hoor.

In 1979 het ‘n toevallige ontmoeting met twee gelowige mans uit Plumstead, Ronnie en Alf, ‘n nuwe pad vir Brand en Atlantis gebaan. Hulle het Bybelstudies en Sondagskool by haar huis begin, wat later tot die stigting van St. Andrews-kerk gelei het. Die kerk, wat binne 14 dae opgerig is, het ‘n simbool van geloof en gemeenskap geword – ‘n plek waar mense hoop kon vind te midde van verdrukking.

Brand se rol het verder uitgebrei. In die laat 1980’s het sy en ander gemeenskapslede entrepreneursopleiding in Hanoverpark ondergaan. Hulle het elke dag om 04:00 vertrek – dikwels sonder om hul kinders te sien – en was vasberade om ‘n beter toekoms vir Atlantis te bou. Hierdie opofferings het die grondslag gelê vir ‘n gemeenskap wat wou groei, ten spyte van die struikelblokke wat apartheid geskep het.

Atlantis se stryd het ook bondgenote van buite gelok. ‘n Joernalis van Die Burger het die gemeenskap begin onder­steun en strategieë gedeel om die raad te konfronteer. Omdat sy wit was, kon die raad haar nie stilmaak nie en Atlantis het ‘n waardevolle bondgenoot gekry.

Met die koms van demokrasie het Brand se aktivisme ‘n nuwe dimensie gekry. Sy is verkies as die eerste vroulike raadslid in die oorgangsfase van Atlantis – ‘n rol waarin sy die stem van ‘n gemeenskap verteenwoordig het wat lank stilgemaak is. Haar werk het ‘n brug gebou tussen die pyn van Apartheid en die hoop van ‘n nuwe bedeling.

Nou, 50 jaar later, staan Atlantis steeds. Die dorp en sy mense leef nog met die gees van die stryd-osse wat destyds teen die Apartheidsregering geveg het. Hulle het nie net oorleef nie, maar saam met die dorp gegroei. Die mylpaal wys dat Atlantis nie net ‘n plek van swaarkry is nie, maar ook van trots, groei en volharding.

• Sylvia Brand se verhaal is die verhaal van Atlantis – van verdrukking na waardigheid, van uitsluiting na deelname. Haar nalatenskap en die gemeenskap se volgehoue stryd toon dat Atlantis se mense nooit gebuig het nie – en dat hulle steeds saam met die dorp groei.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article