ATLANTIS – Altesaam 422 Breaking New Ground-behuisingseenhede (BNG) is tans in aanbou by Kanonkop, met die eerste 69 huise wat na verwagting teen die einde van die maand (Oktober 2026) beskikbaar sal wees.
Dit volg nadat vrae oor die vordering van die behuisingsprojek en die gehalte van die huise op sosiale media gevra is.
Volgens Carl Pophiam, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting in die Stad Kaapstad, word die tweede fase van die projek tans beplan. ‘n Begindatum vir dié fase is egter nog nie bevestig nie.
Kommer is op sosiale media uitgespreek oor beweerde bougehalteprobleme, insluitend bewerings dat die strukture onvoldoende ventilasie het, onveilig is en dat lateie (lintels) ontbreek.
Pophiam het in sy reaksie beklemtoon dat die huise volgens streng gehaltebestuurstandaarde gebou word en dat verskeie professionele instansies by die monitering van die bouwerk betrokke is.
Dit sluit professionele mense van die Stad Kaapstad, die Nasionale Raad vir Huisbouersregistrasie (NHBRC), die Wes-Kaapse regering se departement van menslike nedersettings en eksterne ingenieurs in.
Volgens die Stad word die konstruksiewerk weekliks gemonitor. Indien enige afwykings van die voorgeskrewe standaarde geïdentifiseer word, word die kontrakteur onmiddellik versoek om dit reg te stel.

Wat die bewerings oor ontbrekende lateie betref, verduidelik Pophiam dat ‘n alternatiewe NHBRC- goedgekeurde boumetode, bekend as die U-BLOCK-stelsel, gebruik word. Die stelsel word volgens die Stad deur ‘n strukturele ingenieur gemonitor. Oor ventilasie sê Pophiam dat die nasionale bouregulasies nie lugstene in gesubsidieerde huise vereis nie. Weens die grootte van die huise word natuurlike lugvloei deur vensters en deure benut. Begunstigdes word aangeraai om vensters en deure oop te maak om lugvloei te verbeter.
Die Stad het verder bevestig alle gesubsidieerde huise sal volgens minimum standaarde van die Wes-Kaapse regering, soos bepaal deur die departement van menslike nedersettings en die behuisingswet, gebou word.
Gemeenskapsbetrokkenheid is ook deel van die projek.
Volgens die Stad word behuisingstipes, boumateriaal en ander belangrike aspekte vooraf met die gemeenskap en die Projekbetrokkenheidskomitee (PEC) bespreek. Die komitee sluit verskeie lede van die begunstigde gemeenskap in.
Begunstigdes word ook voor die aanvang van ‘n projek ingelig oor onder meer die grootte, uitleg, materiaal en soort behuising wat voorsien sal word. Die projekstuurgroep bly deur kommunikasie betrokke.
Met 69 eenhede wat teen die einde van Oktober beskikbaar behoort te wees, sal die volgende belangrike stap die oorhandiging van die eerste huise aan begunstigdes wees.
LEES OOK: Residents can aid in prevention




