Altesaam 67 begunstigdes het die afgelope week huissleutels ontvang as deel van die Stad Kaapstad se Kanonkop-Fase-2-behuisingsprojek in Atlantis.
Die Stad het Donderdag (22 Oktober) huise aan 46 begunstigdes oorhandig, nadat nog 21 eenhede die vorige dag aan nuwe huiseienaars oorhandig is.
Baie begunstigdes was emosioneel tydens die oorhandiging en hul opgewondenheid het geen perke gehad nie.
Volgens die Van Willingh-egpaar Rochelle en Frans het hulle baie uitgesien na die dag omdat hulle reeds baie jare op die waglys is. “Dit voel soos Kersfees vir ons as familie!”
Volgens die raadslid Carl Pophaim, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, is die ontvangs van ‘n huis ‘n belangrike mylpaal vir enige gesin.

Die projek bied kwalifiserende inwoners die geleentheid om ‘n eie tuiste te bekom en sodoende groter sekerheid en stabiliteit vir hul gesinne te verseker het Pophiam gesê
“Dit bied ‘n grondslag vir stabiliteit en waardigheid, asook die geleentheid om ‘n beter toekoms te bou. Ons is bly om hierdie belangrike oomblik saam met die begunstigdes van Kanonkop Fase 2 te vier,” het Pophaim gesê. Hy het bygevoeg die Stad sal die komende maande met die oorhandiging van huise aan goedgekeurde begunstigdes voortgaan.
Altesaam 422 Breaking New Ground-huise (BNG) sal by die projek gebou en aan kwalifiserende begunstigdes oorhandig word. Die Stad het sy verbintenis bevestig om die projek te voltooi en behuisingslewering in Atlantis en ander dele van die metropool voort te sit.
Die huiseoorhandiging vorm deel van die Stad se breër Burgemeestersdiensblits, wat daarop gemik is om munisipale dienste en direkte betrokkenheid nader aan gemeenskappe te bring.
Ander inisiatiewe sluit ‘n instandhoudingsdag by die Edinburgh Place-gemeenskapsbehuisingseenhede en ‘n Deed-to-Door-uitreikaksie in. Volgens Pophiam is dit daarop gemik om inwoners te betrek en kwalifiserende begunstigdes met hul titelaktes by te staan.
Pophiam het ook beklemtoon dat begunstigdes vir behuisingsprojekte volgens die Stad se behuisingstoewysingsbeleid en behuisingsbehoefteregister gekies word.
Die proses is daarop gerig om te verseker dat behuisingsgeleenthede billik en deursigtig toegeken word sonder dat mense die bestaande waglys omseil en dat slegs kwalifiserende aansoekers volgens Suid-Afrikaanse wetgewing gehelp word.
LEES OOK: 1 179 huise in Kanonkop gou hier



