Fiona Liezel Abrahams (44), wat in Pella grootgeword het, se lewensverhaal word gekenmerk deur deursettingsvermoë, akademiese groei en ‘n sterk verbintenis tot gemeenskaps-ontwikkeling. Haar benoeming as een van die ANC se burgemeesterskandidate vir die Stad Kaapstad verteenwoordig volgens haar ‘n nuwe hoofstuk in ‘n loopbaan wat reeds dekades lank op openbare diens gerig is.
Abrahams beskik oor ‘n BTech-graad in Openbare bestuur en ‘n honneursgraad in Ontwikkelingstudies. Sy is tans besig met haar meestersgraad aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).
Haar betrokkenheid by gemeenskapswerk en politiek het op ongeveer 19-jarige ouderdom begin, toe sy by jeug- en gemeenskapsontwikkelingsinisiatiewe in Pella betrokke geraak het.
Sy vertel haar nederige agtergrond, haar grootwordjare by haar enkelma en grootouers, asook haar Christelike opvoeding het ‘n belangrike rol in haar vormingsjare gespeel. Hoewel sy uitdagings en boeliegedrag op skool ervaar het, het dit haar vasberadenheid versterk om haarself deur opvoeding en harde werk te bemagtig.
Talle grade en kwalifikasies
“Die plek waaruit ek eens wou wegkom, is vandag ‘n gemeenskap waaraan ek diep verbonde voel en wat ek die voorreg gehad het om te dien,” sê Abrahams.
Ná skool het sy verskeie rekenaarverwante kwalifikasies verwerf en later vrywillige werk by ‘n plaaslike skool in Pella gedoen. Sy was ook vir ongeveer vier jaar by programme wat straatkinders en jongmense ondersteun het, betrokke.
Haar betrokkenheid by gemeenskapstrukture het uiteindelik tot haar deelname aan die ANC-jeugliga en die ANC gelei. Sy het haar politieke loopbaan op takvlak begin, later na streekstrukture gevorder en is uiteindelik tot die nasionale uitvoerende komitee van die ANC-jeugliga verkies.
Abrahams het daarna verskeie rolle in die openbare sektor vervul, waaronder as raadslid, dorpsbestuurder en kantoorbestuurder in plaaslike regering. Sy dien tans as provinsiale verkiesingsbestuurder en werk ook as navorser in die parlement se navorsings- en ontwikkelingseenheid.
Haar ervaring in plaaslike regering het volgens haar ‘n praktiese begrip van dienslewering en die uitdagings van gewone inwoners meegebring.
Een van haar grootste prestasies bly haar bydrae tot die behuisingsprojek in Pella. Sy beskou dit as meer as net ‘n regeringsprojek, aangesien dit ‘n werklike verskil aan gesinne se lewens kan maak.
Abrahams sê haar benoeming as burgemeesterskandidaat het haar laat besef dat mense vertroue in haar leierskap en ervaring het. Sy verwys ook na die werk wat sy en ander ANC-verteenwoordigers in opposisie gedoen het, insluitend hul pogings rondom behuising, MyCiTi-busdienste na Silwerstroom en hoë waterrekeninge.
Sy wil graag voortbou op onafgehandelde inisiatiewe, waaronder middelklasbehuising in Beacon Hill, ‘n behuisingsprojek in Mamre en ‘n gemeenskapsaal vir Pella.
‘Dit gaan oor die gemeenskap’
“Dit gaan nie bloot daaroor om na ‘n posisie terug te keer nie. Dit gaan daaroor om na die werk en ons gemeenskappe terug te keer en die taak wat ons saam begin het, te voltooi,” sê sy.
Vir haar bly haar grootste motivering die mense en gemeenskappe waaruit sy kom. Haar boodskap is dat openbare diens nie net oor posisies en kwalifikasies gaan nie, maar oor die verskil wat ‘n mens in ander se lewens kan maak.
LEES OOK: Willowpark ‘bly vergete’





