Die oud-Springbokke Gavin Passens en Kabamba Floors het onlangs ‘n rugbykliniek vir jong seuns van Atlantis op die Saxonsea-sporterrein aangebied.
Dié rugbykliniek volg ná vorige ontmoetings in Mamre Primêr en by die Hoërskool Robinvale.
Passens, wat onlangs die Gavin Passens-stigting op die been gebring het, het Floors en ander sportlui genader om sy rugbydroom saam met hom uit te brei deur meisies en seuns die geleentheid te bied om basiese beginsels en tegnieke aan te kweek. Hulle sal nie net seuns en meisies vroeg leer nie, maar ook ontwikkel, wat hulle tot klub- en provinsiale vlakke kan help vorder sodat hulle ook eendag vir die nasionale span kan uitdraf (Springbokspan).
“Ons was net soos julle toe ons dekades gelede begin het, maar ons moes hard werk om ons drome te bewaarheid. Vandag is julle beter af want gekleurde spelers kry meer geleenthede en net die feit dat julle opgedaag het, sê reeds dat julle belangstel.Van julle kon verkies het om uit te gaan as gevolg van die skoolvakansie of om in die strate te speel of op die hoeke bymekaar te kom, maar julle het gekies om hier te wees,” het Floors en Passens aan die kinders gesê.
Passens en Floors glo hulle is deur hul gemeenskappe ontwikkel en daarom ploeg hulle terug, want dit is hier waar hulle hul eerste ontmoetings gehad het. “Dit is vir my lekker om in gemeenskapsportontwikkeling terug te ploeg en te sien dat ons kinders verder ontwikkel,” het Floors aan WeskusNuus gesê.
“Dit is die begin van groot dinge vir sportontwikkeling op die Weskus,” het Passens bygevoeg. “Ons hoop om later na ander dorpe uit te brei, maar dit kan alleenlik gebeur as ons gevestig is.”
Die dag was nie net suksesvol nie, maar het jong spelers nader aan hul rolmodelle gebring – sportsterre wat hulle net op televisie gesien het en wat weer eens hul drome aangewakker het om eendag vir die Boland, Bulle, Sharks, Leeus, Cheetahs, Pumas, Griekwas, WP en selfs die Springbokke te speel.




