Tyrone Dempers van Robinale Spurs en Iekeraam Sameuls van Leeds op die Saxonsea-sportterrein in Jomo's Power AFC se sokkertoernooi.
Tyrone Dempers van Robinale Spurs en Iekeraam Sameuls van Leeds op die Saxonsea-sportterrein in Jomo’s Power AFC se sokkertoernooi. Foto: David Rossouw

Jomo’s Power hou sokkertoernooi

Tyrone Dempers van Robinale Spurs en Iekeraam Sameuls van Leeds op die Saxonsea-sportterrein in Jomo's Power AFC se sokkertoernooi.
Tyrone Dempers van Robinale Spurs en Iekeraam Sameuls van Leeds op die Saxonsea-sportterrein in Jomo’s Power AFC se sokkertoernooi. Foto: David Rossouw

Jomo’s Power AFC, een van die Atlantis-plaaslikesokker­vereniging se klubs, het oor die jare op die Kaapse Vlakte-­sokkervelde as een van Atlantis se topspanne bekendheid verwerf.

Die klub het op Saterdag 26 en Sondag 27 September sy eerste volwaardige senior sokkertoer­nooi in Atlantis aangebied nadat die klub sy 50-jarige bestaan ​​in Julie herdenk het. Die toernooi is op die Saxonsea-sportterrein gespeel.

Plaaslike sokkerklubs van Atlantis en Saldanha Hero’s van Diazville, Saldanha, het hul sokkervernuf tydens dié twee dae uitgestal en die Atlantis-sokker­gemeenskap met opwindende sokker vermaak.

Volgens John van Graan, die president van die klub, was hul hoofdoel van die Jomo’s Power AFC-sokkertoernooi (2026) om sokkerontwikkeling in Atlantis verder as ‘n toonaangewende sportsoort in die gemeenskap te vestig. Hul doel was ook om ‘n finansiële inkomste te skep, wat vervoerkostes in die eerste paar wegwedstryde van die komende Safa-Kaapstad-Hollywoodbets-­streekkompetisie vir mans, wat binnekort afskop, sal verlig.

Die doel van die toernooi was ook om die gemeenskap van Atlantis te verenig deur spelers, afrigters, ondersteuners, families en vriende deur middel van sokker byeen te bring. Dit het ‘n geleentheid gebied om gemeenskapsgees, sosiale samehorigheid en gesonde mede­dinging in ‘n positiewe sport­omgewing te bevorder.

‘n Verdere doelwit was om Jomo’s Power AFC as een van die voorste sokkerklubs in Atlantis ten toon te stel, terwyl die klub se ryk geskiedenis en nalatenskap gevier is. Die toernooi was deel van die klub se voortdurende pogings om sy 50 jaar bydrae tot sokkerontwikkeling in Atlantis te herdenk en te vereer en om erkenning te gee aan die belangrike rol wat die klub in die kweek van talent, die aanmoediging van gemeenskapsdeelname en die bevordering van sokker in die streek gespeel het.

Jomo’s Power AFC het sy verbintenis tot uitnemendheid in sport, spelersontwikkeling en gemeenskapsopheffing deur middel van sport deur ­hierdie toernooi herbevestig. Die geleentheid het ook waardevolle blootstelling aan die hoofborg, New Era Films, gebied, terwyl dit geleenthede geskep het vir senior sokkerspanne om aan ‘n goed georganiseerde en ­mede­dingende toernooi deel te neem.

Die geleentheid het ook Jomo’s Power AFC se 50-jarige bydrae tot sokkerontwikkeling gevier en terselfdertyd die klub se verbintenis tot uitnemendheid, die ontwikkeling van jeug- en seniorsokker, gemeenskapsopheffing en sportprestasies ten toon gestel.

Die toernooi het gemeenskapsbetrokkenheid versterk en Jomo’s Power AFC se status as een van Atlantis se gerespekteerde sokkerinstellings – binne Atlantis sowel as binne Safa Kaapstad – bevestig.

Die Jomo’s Power AFC-senior sokkertoernooi is suksesvol oor twee dae aangebied en het beide sy sport- en finansiële doelwitte bereik.

Die sukses van die toernooi is grootliks deur die ­ondersteuning van die hoofborg, New Era Films, asook die deelnemende spanne en toeskouersgetalle, wat die toernooi suksesvol gemaak het, gedryf.

Die eindstryd is Sondag tussen Atlantis Leeds United en Robinvale beslis. Die wedstryd het teen ‘n vinnige pas afgeskop met Spurs, wat die voortou ná net 15 minute geneem het. Leeds het Spurs egter ná vyf minute met goeie spel onder druk geplaas, wat tot ‘n eie doel deur ‘n Spurs-verdediger in die doelboks gelei het. Beide spanne het gaan afkoel met die telling 1-1.

Ná die hervatting van die tweede helfte het Spurs, wat meer balbesit geniet het, Leeds uitoorlê en twee vinnige doele behaal om die telling tot 3-1 te rek.

Hoewel Leeds aanvalle afgestuur het, kon hulle nie Spurs se verdediging breek nie en die wedstryd as naaswenners afgesluit , terwyl Spurs die toernooiprys van R10 000 opgeraap het.

Volgens van Graan was dit hul eerste groot toernooi van hier­die kaliber en met die ondersteuning van New Era Films as hoofborg en goeie gemeenskapsondersteuning kon hulle hul sport- en finansiële doelwitte bereik.

“Dit was nie ons eerste toernooi nie, maar ons eerste groot toernooi, en ons hoop met meer borge in die toekoms gaan ons volgende keer meer spanne lok, wat ook die prysgeld sal verbeter,” het Van Graan gesê.

FC Bayern was derde en Saldanha Hero’s vierde.

LEES OOK: Van Atlantis na SV Ried

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026
    WeskusNuus E-Edition – 27 Oktober 2026

Gift this article