Die burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, die raadslid Rob Quintas, by Kaapstad se battery-elektriese MyCiTi-bus.

Stad kry eerste stil elektriese bus

Die burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, die raadslid Rob Quintas, by Kaapstad se battery-elektriese MyCiTi-bus.

Kaapstad se eerste battery- elektriese MyCiTi-bus is op die stad se paaie vir toetsritte – ‘n belangrike stap in die Stad se plan om sy openbare vervoerstelsel geleidelik meer omgewingsvriendelik te maak.

Die prototipebus het onlangs uit Johannesburg aangekom, waar die busrompe vir die nuwe MyCiTi-vloot vervaardig word. Die bus sal oor die volgende paar weke op verskeie roetes getoets word om vas te stel hoe dit onder Kaapstad se uiteenlopende rytoestande presteer voordat dit vir passasiersdiens oorweeg word.

Volgens die Stad is die elektries aangedrewe bus ‘n belang­rike mylpaal vir die MyCiTi-­diens, wat al 16 jaar in bedryf is.

“Die aankoms van ons eerste elektriese bus is ‘n belangrike hoogtepunt in hierdie reis en ondersteun ons oorgang na ‘n skoner en meer volhoubare openbare vervoerstelsel, wat nie net goedkoper is om te bedryf en te in stand te hou nie, maar ook meer bestand is teen uitdagings in die energiemark,” sê die burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, die raadslid Rob Quintas.

Die toetsritte sluit roetes soos Hospitaaldraai, die N2, Kampsbaai, Polkadraaiweg en Jip de Jager-rylaan in. Die Stad wil bepaal hoe die bus teen steil opdraandes en afdraandes, in spitsverkeer, tydens gereelde stop-en-ry-verkeer en oor langer afstande vaar.

Benewens die bus se ryverrigting sal die toetse ook die battery-doeltreffendheid, ener­gie­verbruik, laaitye en die invloed van Kaapstad se klimaat evalu­eer. Die bevindings sal gebruik word om beplanning vir laaistasies, ­instandhouding, bestuurderopleiding en die uiteindelike ontplooiing van die vloot te verfyn.

Eerste van 38

Die elektriese bus is die eerste van 38 battery-elektriese busse wat deel is van die uitbreiding van die MyCiTi-diens na die metro se suidoostelike gebiede. Die res van die vloot sal na verwagting later vanjaar afgelewer word.

Volgens Quintas is die ­nuwe

12 meter lange Volvo BZRLE-­busse die eerste MyCiTi-busse waarvan die romp in Suid-Afri­ka ontwerp en plaaslik in Gauteng vervaardig is.

Die beoogde elektriese vloot sal uiteindelik op roetes tussen Mitchells Plain en Khayelitsha, Wynberg en Claremont asook binne die Kaapstadse middestad ingespan word. Indien die projek volgens skedule verloop, sal die eerste elektriese busse mense van Julie 2027 af ­vervoer.

Die toetsprogram word in samewerking met die Universiteit van Kaapstad uitgevoer en deur die Stad Kaapstad gefinansier, met ondersteuning van ‘n toekenning van die Urban Electric Mobility Initiative.

Bedryfsdata ingesamel

Quintas sê die navorsing sal die Stad help om beter te verstaan hoe die elektriese busse onder plaaslike omstandighede presteer en watter uitdagings aangedurf sal moet word voordat die vloot in 2027 in diens gestel word.

“Hierdie inligting sal verseker dat ons goed voorbereid is vir die bekendstelling van elektriese busse in die geskeduleerde passasiersdiens. Die bedryfsdata sal die suksesvolle ontplooiing van die elektriese vloot ondersteun en toekomstige beleggings in uitlaatvrye openbare vervoer help rig, terwyl ons voortgaan om Kaapstad aan die beweeg te hou,” sê hy.

Hoewel die prototipe nog nie deel van die geskeduleerde passasiersdiens is nie, sal inwo­ners dit gedurende die toetsfase op verskeie roetes in en om die stad kan sien.

Die Stad beklemtoon dat die uitbreiding van sy battery-elektriese busvloot steeds ‘n langtermyndoelwit is. Verdere aankope hang egter af van finansiering deur die nasionale regering.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026
    WeskusNuus E-Edition – 25 August 2026

Gift this article