Die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) het, in samewerking met die Community Stakeholder Network (CSN), sy 2026-inligtingstoer suksesvol voltooi met ses betrokkenheidsessies om bande met die Atlantis-gemeenskap, plaaslike ondernemings, kleinsakeondernemings en inwoners te versterk.
Die sessies is gedurende Junie en Julie in Atlantis, Witsand, Mamre en Pella gehou en was deel van Asez se voortgesette verbintenis tot deursigtige kommunikasie, inklusiewe deelname en samewerkende ontwikkeling.
Tydens die sessies kon inwoners en plaaslike sakeondernemings eerstehands inligting oor die Atlantis- spesiale ekonomiese sone se huidige en beplande infrastruktuurprojekte vrae vra, terugvoer gee en meer leer oor toekomstige geleenthede wat deur die uitbreiding van die Asez geskep word.
‘n Belangrike fokus van die inligtingstoer was die Asez se reeks huidige en toekomstige bou- en infrastruktuurprojekte, wat daarop gemik is om Atlantis as ‘n sentrum vir groentegnologievervaardiging en belegging te vestig.
Deelnemers is ingelig oor projektydlyne, moontlike verkrygingsprosesse en die geleenthede wat hierdie ontwikkelings vir plaaslike indiensneming, vaardigheidsontwikkeling en deelname deur ondernemings tydens die konstruksie- en bedryfsfases kan skep.
Matt Cullinnen, die uitvoerende hoof van die Asez, sê die inligtingstoer het weer gewys hoe belangrik dit is om regstreeks met die gemeenskappe en ondernemings wat uiteindelik by die groei van die Asez sal baat, te skakel.
“Deur inligting vroeg te deel, na plaaslike perspektiewe te luister en geleenthede vir deelname te skep, bou ons die vennootskappe wat nodig is om te verseker dat infrastruktuurbeleggings tot inklusiewe ekonomiese ontwikkeling, groei van plaaslike ondernemings en volhoubare werkskepping lei,” sê hy.
Die CSN-voorsitter, Saul Smith, sê die vennootskap met die Asez word deur ekonomiese inklusiwiteit gedryf.
Cullinnen sê Asez sal voortgaan om gereeld inligtingsessies, gemeenskapsvergaderings en projekopdaterings aan te bied om te verseker dat inwoners en plaaslike ondernemings ingelig bly en uit nuwe geleenthede voordeel kan trek.


