Graad-8- en graad-9-leerders wat aan die Atlantis Space STEM-program deelneem, het onlangs ‘n werksessie bygewoon wat ruimtewetenskap, omgewingsmonitering en praktiese tegnologie kombineer het.
Die werksessie is deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap (Sansa), die Atlantis- spesiale ekonomiese sone (Asez) tesame met MaxIQ Space aangebied.
Leerders het ondersoek ingestel na hoe aktiwiteit op die son toestande op aarde kan beïnvloed.
Selwyn Willoughby van Asez het die leerders aan Atlantis se ontwikkeling as ‘n sentrum vir groennywerheid, vernuwing en tegniese vaardighede bekendgestel. Die sessie het die verband tussen STEM-onderwys en toekomstige loopbaangeleenthede beklemtoon. Thandile Vuntu van Sansa het verduidelik hoe wetenskaplikes by Sansa se geriewe in Hermanus son-aktiwiteit en ruimteweer monitor. Leerders het meer geleer oor die rol van ruimtewetenskap in navorsing en omgewings- en atmosferiese monitering.
Die werksessie het daarna ‘n praktiese komponent ingesluit. Judi Sandrock, ‘n mede-stigter van MaxIQ Space, het leerders aan Springbots bekendgestel – ‘n Suid-Afrikaans ontwerpte modulêre elektroniese platform waarmee omgewingsdata ingesamel en ontleed kan word.
Leerders het in spanne gewerk, metings geneem, data ontleed en hul bevindings aan die groep voorgelê. Hulle het resultate vergelyk, patrone in die data bespreek en ondersoek ingestel na hoe omgewingstoestande deur groter atmosferiese prosesse beïnvloed kan word.
Die werksessie is spesifiek op graad-8- en graad-9-leerders gerig in ‘n belangrike stadium waarin jongmense begin besluit oor vakke en moontlike loopbane. Praktiese blootstelling aan wetenskap en tegnologie het die verband tussen STEM-vakke en loopbane in onder meer ingenieurswese, wetenskap, tegnologie en vernuwing beklemtoon.
Sansa het ruimtewetenskaplike kundigheid verskaf, Asex het die leerinhoud aan Atlantis se ekonomiese ontwikkeling verbind en MaxIQ Space het praktiese STEM-aktiwiteite aangebied.




