Tien vroeëkinderontwikkelingsentrums (VKO) in die Wes-Kaap het onlangs baat gevind by vaardigheids- en ontwikkelingsopleiding deur Shoprite se Act for Change-program, wat daarop gemik is om die gehalte van vroeë leer te verbeter.
Die opleiding het ook VKO-praktisyns van Atlantis ingesluit en tot voordeel van sowat 580 jonger kinders in Atlantis, Langa en Gugulethu gestrek.
Die kursus is in vennootskap met The Early Care Foundation aangebied en het VKO-praktisyns toegerus met praktiese vaardighede, insluitend nuwe onderrigmetodes, kennis oor kinderontwikkeling en beter klaskamerbestuur.
Die doel is om omgewings te skep waar kinders veilig, gestimuleer en ondersteun voel sodat hulle optimaal kan ontwikkel en beter vir hul skooljare voorberei word.
Volgens Lebo Ramotsamai, die klantetevredenheid-bestuurder by die Shoprite-groep, begin gehalte-vroeëkinderonderwys by goed toegeruste en selfversekerde onderwysers.
“Deur opleiding vir praktisyns met voedingsondersteuning te kombineer, help ons VKO-sentrums om omgewings te skep waar kinders kan leer, groei en skoolgereed kan word,” sê hy.
Die ontwikkeling van VKO-praktisyns is deel van Shoprite se groter belegging in vroeëkinderontwikkeling.
Dié kleinhandelgroep ondersteun landwyd 148 VKO-sentrums en voorsien daagliks voedsame maaltye aan meer as 10 000 kinders.
Die program help om sterker fondamente vir jonger kinders deur opleiding en ondersteuning te bou en gemeenskappe, waaronder Atlantis, op die lang termyn te versterk.





