Uitgesoekte jonges kry geleentheid

Bestuurslede van Hisense en die raadslid Allister Lightburn saam met die 100 uitgesoekte jongmense. Foto’s: Murphy Roberts

Murphy Roberts

Daar gaan nie ‘n tweede kans wees om ‘n eerste indruk te maak nie.

Só het Allister Lightburn, die subraad 1-voorsitter en wyk 29-raadslid, aan ongeveer 100 jongmense gesê.

“Gryp die geleentheid met beide hande aan!” het hy die jongspan bemoedig. “Daar is baie kinders wat enigiets sal doen om in julle skoene te staan.”

Lightburn het Edupower en Hisense bedank vir die geleentheid om 100 jongmense van Atlantis, Mamre, Pella en Witsand te bemagtig.

Hisense se Johann Nortje sê die program, wat 12 maande duur, bied die jongspan die geleentheid om ‘n beter toekoms te bou deur ‘n beter kwalifikasie en ondervinding op te doen.

Die program behels dat die 100 jongmense van Maandag tot Vrydag by Hisense indiensopleiding ontvang en een keer per week na die klaskamer terugkeer.

“Hisense wil ook graag met die projek teruggee aan die gemeenskap wat ons ondersteun,” het Nortje bygevoeg.

Geen beloftes vir permanente posisies word gemaak nie, maar hopelik sal van die studente op meriete die geleentheid kry as hulle by Hisense wil werk nadat hulle gekwalifiseer is.

Die jongmense het gemiddeld 40 jaar se produktiewe werkjare voor hulle. Nortje het aan die jongspan gesê “die geleentheid word aan julle gebied en julle moet self besluit om jul toekoms te verander en te verbeter”.

“Julle moet die regte besluite vroeg in jul loopbane neem om die selfdissipline aan te leer en te kweek om sukses te behaal en ‘n beter toekoms te bou.”

Hy het afgesluit deur te sê Hisense se uitvoerende bestuur is uiters opgewonde oor die projek en vertrou dat die sukses daarvan die maatskappy se verbintenis aan die gemeenskap van Atlantis sal bewys.

Johann Nortje van Hisense sê die program, wat 12 maande duur, bied die jongspan die geleentheid om ‘n beter toekoms te bou.
“Gryp die geleentheid met beide hande!” het die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn die jongspan bemoedig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article