Liewe Heksie is steeds die bekendste kinderboekkarakter in Afrikaans en VernaVels se stories vermaak duisende bewonderaars al vir 65 jaar.

Sketse deur kinders gesoek

Liewe Heksie is steeds die bekendste kinderboekkarakter in Afrikaans en VernaVels se stories vermaak duisende bewonderaars al vir 65 jaar.

Jong kunstenaars kry die kans om hul tekeninge in die splinternuwe Liewe Heksie en die Rotbende te sien. Die boek verskyn later vanjaar ter viering van Liewe Heksie se 65ste bestaansjaar.

Sedert Verna Vels se eerste Liewe Heksie-storie in 1961 op radio uitgesaai is en die boeke kort daarna in 1965 verskyn het, het dié onskuldige, onhekserige heksie ‘n spesiale plek in die hart van Suid-Afrikaanse kinders gekry.

Liewe Heksie se bekoring lê daarin dat kinders hulle maklik met haar kan vereenselwig. Of sy nou ‘n woord verkeerd verstaan, iets belangriks vergeet, haar punthoed skaam oor haar oë trek of uiteindelik tog iets moeilik regkry, deel lesers in haar vreugdes en uitdagings.

Om dié besondere nalatenskap te vier, nooi Jonathan Ball-uitgewers kinders tussen vyf en 12 jaar om hul eie sketse van Liewe Heksie en haar beste maat, Matewis die kat, te teken. Vier weninskrywings sal as kunswerke in die nuwe boek gepubliseer word.

Liewe Heksie en die Rotbende is die eerste nuwe Liewe Heksie-boek in dekades en is gegrond op ‘n dramaproduksie wat Verna Vels vir die Universiteit van Pretoria geskryf het. In dié nuwe avontuur moet Liewe Heksie en haar vriende Blommeland help red nadat die Geelheks van Gifappeltjieland en ‘n bende skelm rotte planne beraam om die kosbare Silwer Roos te steel.

Die storie bevat al die bekende elemente wat Liewe Heksie oor dekades geliefd gemaak het, met nuwe avonture, humor en verrassings wat daarop gemik is om bestaande aanhangers sowel as nuwe jong lesers te betower.

Kinders moet 'n tekening van Liewe Heksie en Matewis, haar kat, maak.
Kinders moet ‘n tekening van Liewe Heksie en Matewis, haar kat, maak.

Met splinternuwe illustrasies en ‘n verhaal wat die wêreld van Blommeland opnuut laat leef, wil die boek Verna Vels se verbeeldingryke nalatenskap voortsit en kinders aanmoedig om hul eie kreatiwiteit te ontdek.

Die tekeninge moet oorspronklik en handgeteken wees op ‘n wit A4-bladsy. Kinders mag enige teken- of inkleur-­medium gebruik, insluitend potlode, kryte, verf of viltpenne. Geen woorde of skryfwerk mag op die prent verskyn nie.

‘n Ouer of voog moet saam met die inskrywing die kind se naam en ouderdom, die ouer of voog se naam, kontaknommer, e-posadres en woonplek verskaf.

Die tekening moet per e-pos voor Maandag 10 Augustus na marketing@jonathanball.co.za gestuur word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 July 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 July 2026

Gift this article