Inwoners van Atlantis is woedend en vra dat die verdagte borg geweier word. Foto: Murphy Roberts
Inwoners van Atlantis is woedend en vra dat die verdagte borg geweier word. Foto: Murphy Roberts

ATLANTIS – Alvin “Lippe” Smith (38), die sogenaamde “suurmonster”, is Woensdag 8 April borgtog in die landdroshof op die dorp geweier.

Smith word daarvan berskuldig dat hy op Sondag 15 Maart ‘n bottel suur oor Shaneka Johnson (25) se kop uitgegooi het.

Shaneka Johnson in die hospitaal.
Shaneka Johnson in die hospitaal.

Die landdros het in sy uitspraak gesê dit is nie in belang van geregtigheid dat die verdagte op borg vrygelaat word nie. Hy het ook die verdediging se pleidooi dat die verdagte lief is vir die hof en nie sal verdwyn nie, verwerp.

Hy het verder gesê hy stem saam met die staat dat daar wel ’n sterk saak teen Smith is en dat die verdagte die hof belieg het toe hy aangevoer het dat hy nog nooit met die gereg gebots het nie.

Lippe het aan die hof gesê hy is “bang vir die tronk” en dat hy borgtog verdien omdat hy ’n saggeaarde en vredeliewende persoon is. Hy het ook in sy borgaansoek getuig dat hy nog nooit met die gereg gebots het nie, maar die staat het egter die teendeel bewys. Volgens die aanklaer is Lippe reeds in 2010 skuldig bevind aan poging tot roof.

Die klag is van aanranding met die doel om ernstig te beseer verander na poging tot moord. Volgens die verdagte se getuienis het hy nie geweet daar is suur in die bottel nie. Hy het aan die hof verduidelik hy was glo onder die indruk dat daar water in is, aangesien baie mense met waterbotteltjies rondgeloop het.

Volgens die aanklaer het Lippe reeds die bottel suur gehad en presies geweet wat daarin is, aangesien hy die slagoffer vooraf gedreig het. Die ondersoekbeampte, sers. Dean Adams, het Dinsdag 7 April getuig dat die verdagte se lewe moontlik in gevaar kan wees omdat die gemeenskap woedend is oor sy beweerde daad. Adams het ook die slagoffer se beserings in detail aan die hof verduidelik.

Shaneka Johnson.
Shaneka Johnson.

“Dit gaan ’n lang pad na herstel wees, maar ek is positief,” het Johnson vanuit haar hospitaalbed in die brandeenheid in die Tygerberg-hospitaal gesê. Shaneka se lewe is meer as drie weke gelede in ’n hel van pyn verander toe die suur oor haar uitgegooi is.

“Die verdagte het my beskuldig dat ek sy selfoon gesteel het,” het sy aan WeskusNuus verduidelik terwyl sy in erge pyn verkeer het. “Ek het verduidelik dat ek nie sy selfoon geneem het nie, maar hy wou niks hoor nie. Ek het hom my selfoon gewys, maar hy het volgehou dat ek syne geneem het.”

“Die volgende oomblik het my kop begin brand en het ek die mees ondraaglike pyn ervaar,” vertel sy. Volgens Shaneka is die een helfte van haar oor reeds afgesit, en wag daar ’n reeks veloorplantingsoperasies om te red wat daar te redde is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 14 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 14 April 2026

Gift this article