In aanloop tot die munisipale verkiesing op Woensdag 4 November gesels WeskusNuus met die kandidate wat in Atlantis om inwoners se stemme meeding. Ons vra elke kandidaat dieselfde vrae oor hul prioriteite, die uitdagings in hul wyk en hul planne indien hulle verkies word.
Michael Roberts PA (wyk 29), wat in Mamre gebore en getoë is en aan Mamre Primêr en die Hoërskool Saxonsea skoolgegaan het, sê hy stel hom as wykraadslid verkiesbaar omdat hy eerder deel van die oplossing wil wees as om oor probleme te kla. Hy wil verseker inwoners se stemme word in die stadsraad gehoor.
Indien hy verkies word, wil Roberts werkskepping bevorder deur met plaaslike ondernemings saam te werk, vaardigheidsontwikkelingsprogramme aan te bied en entrepreneurs te ondersteun. Hy wil ook veilige en skoon parke, beter funksionerende klinieke, groter ondersteuning vir kinderhuishoudings en bejaardes asook programme wat jongmense van dwelms en bendes weghou, bevorder.
Roberts sê hy wil ‘n raadslid wees wat dien en belowe om bereikbaar te wees, gereeld buurtbesoeke doen en inwoners gereeld terugvoer gee oor sake in die wyk.
Hy beskou werkloosheid, swak dienslewering, misdaad en behuising as die grootste uitdagings. Om veiligheid te verbeter, wil hy die samewerking tussen die polisie, gemeenskapspolisiëringsforums, buurtwagte en inwoners versterk terwyl hy glo werkskepping en geleenthede vir jongmense sal help om misdaad te verminder.
Om werkloosheid te bekamp, wil Roberts plaaslike sakeondernemings en SMME’s aanmoedig om inwoners van die wyk eerste aan te stel en vaardigheidsoplei-
ding en beursgeleenthede vir jongmense bevorder. Sy onmiddellike fokus sal wees om saam met wetstoepassers veiliger bushaltes, skoolvervoer en naweekpatrollies te verseker.
Donae September, ARA (wyk 29 en 32), is ‘n ma van twee, ouma, sakevrou, waarnemende predikant by JCI-kerk, streekleier van ARA Blaauwberg en ‘n gemeenskapsaktivis. Sy sê haar passie vir die stryd teen geslagsgeweld (GBV) en die moorde op jongmense het haar gemotiveer om haar as kandidaat vir wyk 29 verkiesbaar te stel.
Volgens September spruit haar besluit uit ‘n begeerte om werklike verandering te bring. Sy glo diensbaarheid en integriteit behoort die grondslag van leierskap te wees.
Haar prioriteite sluit programme in om vaderskap te bevorder asook jeugontwikkeling, die bekamping van onreg, beter onderwys en die bemagtiging van inwoners deur entrepreneurskap en sake-ontwikkeling.
Sy meen inwoners moet vir haar stem omdat sy met integriteit, passie en deernis dien en altyd vir geregtigheid sal veg.
September beskou bendegeweld, dwelmgebruik, werkloosheid en uitdagings in die onderwys as die grootste probleme in die wyk.
Sy wil samewerking tussen die gemeenskap, die polisie en kerke versterk, morele waardes in skole bevorder en jongmense meer geleenthede gee.
Om werkloosheid te bekamp, moedig sy inwoners aan om opleiding te volg, geleenthede by West Coast College te benut en entrepreneurskap te oorweeg.
Indien sy verkies word, sal werkskepping haar eerste voorkeur wees, aangesien sy glo dit sal ook misdaad, GBV, dwelmmisbruik en bendegeweld help verminder.

Theunis Mack PA (wyk 32), ‘n inwoner van Proteapark, eggenoot, oupa en voormalige administrateur by die Wesfleur-hospitaal, sê sy 28 jaar in die openbare sektor en sy gemeenskapsbetrokkenheid het hom ‘n goeie begrip gegee van die uitdagings waarmee inwoners daagliks te kampe het.
Hy staan as kandidaat omdat hy verantwoordbare en deernisvolle leierskap na die stadsraad wil bring en glo sy ervaring plaas hom in ‘n goeie posisie om inwoners van wyk 32 te verteenwoordig.
Mack se prioriteite sluit plaaslike werkskepping deur beter toegang vir SMME’s tot munisipale en Atlantis SEB-kontrakte in.

Hy wil ook veiligheid verbeter deur spreiligte in misdaadbrandpunte aan te bring, gevaarlike sluiproetes te sluit, buurtgroepe te ondersteun, vullisverwydering te verbeter en openbare vervoer meer bekostigbaar te maak.
Hy meen inwoners moet vir hom stem omdat hy ‘n bewese rekord van dienslewering, integriteit en gemeenskapsbetrokkenheid het.
Mack beskryf dwelmgebruik as die grootste krisis in die wyk en steun sterker rehabilitasie- en voorkomingsprogramme.
Om werkloosheid te bekamp, wil hy plaaslike ondernemings beter toegang tot tenders gee, ‘n databasis vir SMME’s vestig en werksgeleenthede vir West Coast College-studente bevorder.
Indien hy verkies word, sal hy begin deur gemeenskapsgebaseerde selgroepe te vestig sodat inwoners ‘n groter rol in besluitneming kan speel.





