POTPOURRI | Mooiste mooiste maand is hier en Kersfees is op sy spoor

Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Mooiste mooiste maand is hier en Kersfees is op sy spoor


Dit is die maand Oktober. Die mooiste, mooiste maand – volgens C. Louis Leipoldt.

Kersversierings maak reeds hul verskyning in winkels. Skrikwekkend.

Dit voel soos ‘n paar maande gelede wat ons gewonder het wat hierdie nuwe jaar vir ons gaan inhou. Ons het asem opgehou in die hoop op ‘n beter jaar as die vorige een. Nou trek ons al (weer) by Kersversierings.

Vir baie raak hierdie jaar skielik lank. Hulle bieg dat hulle tot nou toe hoopvol staande gebly het, maar hulle is moeg.

Doodmoeg. Sielsmoeg. Sommige erken dat hulle onverwags moedeloos is.

Die drie maande wat voorlê, voel soos ‘n nimmereindigende aantal dae waardeur hulle sal moet worstel.

Hierdie laaste kwart van ‘n jaar loop net afdraende. Die uurglas loop leeg. Hoe minder dae van die jaar oor is, hoe vinniger loop die tyd uit.

Skole gaan skaars vir die vierde kwartaal open of daar word gereed gemaak om nog ‘n jaar af te sluit.

Afskeidsgesellighede word gereël. Vakansiereëlings vasgemaak.

“Wat doen julle hierdie Kersfees?” is ‘n vraag wat al hoe makliker oor ons lippe rol.

Kersfees? Dit kan tog nie wees nie. Daar is nog soveel wat gedoen moet word. Daar is nog soveel wat nog moet gebeur.

Die vreemdheid is nie dat ons reeds 2027-dagboeke aanskaf nie. Die vreemdheid is dat ons reeds daarin begin skribbel.

As die weervoorspellings realiseer lê daar ‘n warm en meedoënlose somer voor ons uitgestrek.

En aan die einde van hierdie warm en meedoënlose somer is 2027 reeds in volle swang.

Dit is die maand Oktober. Wanneer ons ons oë uitvee is nog ‘n jaar verby.

Mag ons ons hakke in die grond inslaan om tyd só ‘n bietjie stadiger te laat loop.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article