Op 12 September 2014 het ‘n rubriek van my vir die eerste keer onder die naam “Potpourri” verskyn. Die voorafgaande sewe maande is dit onder my eie naam geplaas. Meer as 12 jaar se rubrieke, waarvan 12 jaar Potpourri-rubrieke was. Meer as 600 rubrieke altesaam.
Hierdie uitsonderlike pad het my ‘n paar dinge geleer.
Ons is tot meer in staat as wat ons dink. Ons onderskat onsself maklik. Baie maal gee ons vir ander mense meer krediet as wat ons vir onsself gee.
Tyd vlieg. Eersdaags word Kersversierings in die winkels opgehang. Die jaar, wat voel of dit skaars begin het, spoed einde se kant toe. Ons probeer oorleef. Ons probeer staande bly. As ons sien, is dit Maandag.
En weer Maandag.
En wéér Maandag. So stap die jare aan en gaan ons lewe verby.
In baie gevalle kyk ‘n mens terug en voel dit vir jou of jy ‘n dekade of twee gemis het.
Daar is wonderlike, interessante mense op hierdie aarde. Mense wat vreemde dinge aanvang en unieke dinge vermag. Mense wat alledaagse sleurwerk lekker laat lyk. Mense met deursettingsvermoë wat weier om op te gee.
In die alledaagse geharwar skuil interessanthede en snaaksighede – wat alles ons menslikheid na vore bring.
Uiteindelik is ons almal mense wat mekaar nodig het om te oorleef. Selfs al frustreer mense ons en ontken ons van tyd tot tyd hierdie ek-kan-nie-alleen-nie-konsep.
Sonder lesers sou hierdie mylpaal nie vir my moontlik gewees het nie.
Lesers wat terugvoering gee. Lesers wat vrae vra. Lesers wat voorstelle maak of versoeke rig.
Agter elke rubriek skuil ‘n stukkie inspirasie. ‘n Stukkie emosie. ‘n Stukkie ervaring.
‘n Stukkie van myself of iemand wat my pad gekruis het.
‘n Groot dankie aan lesers wat hierdie mylpaal vir my moontlik gemaak het.
Julle is kosbaar.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.



