Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

TWYFELHOEKIE | Leef bietjie stadiger voordat alles verbysnel


Ons lewe vinnig. Die dae loop, weke tel verby en ook hierdie jaar is alreeds verby die halfpadmerk. Ons almal weet tyd staan nie stil nie.

Soms bring ons ons tyd deur met dinge van waarde en soms mors ons ons tyd gewoon op dinge wat nie goed is vir ons nie. Baie van ons lewe te vinnig.

Ons begin die snelgang van dinge normaliseer asof dit altyd so hoort.

Onlangs lees ek ‘n byskrif by ‘n foto van ‘n jong mamma wat vir ‘n baba skryf: “Jy het my geleer om stadiger te leef.”

Die rede hoekom ek so ‘n bietjie daarby vasgesteek het en dit my diep geraak het, is omdat ek besef hoe maklik so baie, soveel mooi, by ons verbygaan omdat ons net so jaag en voortsnel.

Miskien moet ons ‘n bietjie meer asemhaal, ‘n bietjie meer stilstaan, ‘n bietjie meer waardeer, ‘n bietjie meer waarneem.

Hierdie jong mamma is reg. Ons moenie ophou leef nie; ons moet wel stadiger leef.

Ons moet leer om ons kinders te sien groei, fase vir fase. Ons moenie die mooi van hul vorming en groeijare by ons verby laat gaan nie.

Ons moet so ‘n bietjie meer gereeld tyd maak vir ‘n oproep.

Stop vir ‘n kuier by ‘n bejaarde.

Tyd maak vir ‘n gesprek.

Iets doen wat ons so onnodig uitstel.

Ja, soms vir onsself.

Ons mag maar ‘n bietjie aandag gee aan die lewe.

Wat help dit ons om so vinnig deur die lewe te snel dat alles by ons verbygaan?

Lewe so ‘n bietjie stadiger. Nog ‘n prestasie, nog ‘n rand, nog ‘n kontrak, nog ‘n besigheid, nog ‘n sukses, nog ‘n projek. Natuurlik, as dit kan en dit is goed en mooi, doen dit.

Maar lewe ook so stadig dat die voortsnel van dinge jou nie inhaal nie.

Een oggend staan jy op en die geleentheid is verby en die tyd het opgeraak, terwyl jy so vinnig alles gedoen het. Lewe ‘n bietjie stadiger.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article