Karin Muller
Karin Muller. FOTO: Verskaf

POTPOURRI | Die brein is beslis bobaas al raak dit soms steeks


Die menslike brein is ‘n wonderlike ding. Amper so ‘n wonderlike ding soos die donkie. Ons brein werk op verskillende maniere onder verskillende omstandighede.

Daar is mense wat te midde van groot lawaai steeds baie gefokus ‘n sekere taak kan verrig. Ander mense het absolute stilte nodig om dieselfde taak te kan verrig. Daar is kreatiewe breine en syferbreine. Daar is logiese breine. Daar is abstrakte breine. Daar is ‘n mengelmoes breine.

My brein funksioneer die beste in ‘n toestand van orde. Ongeag dat ek van afwisseling hou, moet my onmiddellike omgewing georden wees. Nie tot op die punt van obsessie nie, maar ten minste so dat ek weet wat waar is.

Ons badkamers is onlangs opgeknap. Opgeknap is seker nie die regte beskrywende woord nie. Afgekap. Uitgekap. Omgedolwe. Omdat die pype amper ‘n halwe eeu oud is, moes hulle loodgieterswerk verrig en weer teël. Die badkamers moes basies herbou word.

Totale chaos. Onder hierdie omstandighede is daar mense wat hul huise verlaat en terugkom wanneer dinge genormaliseer het. Met ons verskeidenheid troeteldiere was dit nie ‘n opsie nie.

In hierdie chaos het my brein heeltemal deurmekaar geraak. Toe ek die linne uit die linnekas haal en in die spaarkamer bêre, het ek skielik nie meer geweet waar om die ketel in die kombuis te kry nie.

Hierdie patroon het voortgeduur.

Die bouspan het hard gewerk en goeie werk gelewer. Alles is terug na normaal. My breinfunksie ingesluit.

Dit is vreemd hoe ‘n mens iets met jou brein wil uitredeneer terwyl jy terselfdertyd besef dat dit dieselfde brein is wat nou steeks is. Asof jou brein skielik ‘n brein van sy eie gekry het.

Die menslike brein is ‘n wonderlike ding wat ons te dikwels as vanselfsprekend aanvaar en heeltemal te gereeld onderskat.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier.
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article